Internasionale vrouedag: bemagtiging en gelykheid is almal se verantwoordelikheid

2020-03-08
Die Redaksie

Vandag se internasionale vrouedag-tema is #EachforEqual. Hierdie jaar 2020 merk die 25ste herdenking van die Beijing-onderneming en - aksie vir die bemagtiging van vroue. Maar is vroue werlik gelyk en bemagtig?


Gister, 7 Maart, was dit ses maande sedert president Cyril Ramaphosa se noodplan teen geslagsgeweld aangekondig is. Wat het werklik in dié ses maande gebeur tot voordeel van vroue?
Dae soos vandag is belangrik en dien as motivering om die stryd om geslagsgelykheid verder te voer. Dit is egter van kardinale belang dat daar nie slegs van vrouedag tot vrouedag gegaan word en niks verander nie.


"Wanneer statistiek van vroue en kinders wat vermoor en verkrag is sedert die aankondiging van die noodtoestand in ag geneem word, is dit duidelik dat praat nie genoeg is nie. Strenger maatreëls moet in plek gestel word om die aanmelding van geslagsgeweld aan te moedig en slagoffers te beskerm," sê Tammy Breedt, VF Plua-LP en hoofwoordvoerder van vrouesake.


"Die VF Plus wil sien dat polisiëring en vervolging van geweld teen vroue en kinders geprioritiseer word."


"Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het onlangs na die moord op Tazne van Wyk erken daar is fout met die paroolstelsel en dat dit “onvoorspelbaar” is. Volgens die minister van polisie is meer as 124 000 sake van verkragting die afgelope drie jaar aangemeld. Hierdie syfer is des te meer skokkend in ag genome die aanname dat slegs 2% van alle verkragtings aangemeld word. Dit beteken daar is in werklikheid sowat 2 miljoen voorvalle van verkragting per jaar.


"In ‘n vraag aan die minister van justisie oor die aanmelding en deurvoering van gerapporteerde sake, het die VF Plus met skok verneem dat daar nie voldoende rekordhouding van misdade teenoor vroue is nie. Data hieroor is nie voldoende nie, omdat daar nie bepaal kan word of ‘n saak deur die slagoffer of deur die vervolgingsgesag teruggetrek word nie. Sowat 59% van gerapporteerde sake haal nie die howe nie.


"Die strafregstelsel het vroue en kinders te veel in die steek gelaat. Sonder strenger maatreëls en polisiëring sal vroue en kinders slagoffers bly."


"Vir die vrou om te floreer moet die regte omgewing geskep word. Ons het ‘n veilige omgewing nodig waar ons dogters kan leer, groei en werklik gelyke geleenthede kan hê. Ons moet ‘n samelewing van toleransie skep waarbinne vroue dieselfde geleenthede het as mans en waar vroue hulself kan uitleef sonder vrees.


"Die VF Plus steun vroueregte, maar weet dat dit in die praktyk slegs verwesenlik kan word deur die bemagtiging van vroue deur opleiding en die skep van geleenthede. Werklike verandering tot voordeel van die vrou is ons almal se verantwoordelikheid en moet nie bloot ‘n gesprek jaar na jaar op ‘n bepaalde dag wees nie," sê Breedt.

TammyBreedtInternasionaleVrouedag

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!