Justisie-minister moet konsekwent optree met parool

2020-03-06
Die Redaksie

"Die wyse waarop die departement van justisie- en korrektiewe dienste die paroolproses van die sogenaamde ‘Doodskis Twee’, Theo Jackson en Willem Oosthuizen, hanteer, dui op inkonsekwente optrede deur die departement," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van justisie.

"Dit volg nadat die korrektiewe toesig-en paroolraad besluit het om Jackson en Oosthuizen op parool te plaas. Oosthuizen is letterlik in sy spore gestuit toe hy op die punt was om die gevangenis te verlaat en Jackson is Donderdagaand by sy huis in hegtenis geneem presies ‘n week nadat hy op parool vrygelaat is.

"Die feit dat die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste in terme van die Wet op Korrektiewe Dienste ‘n mosie ingedien het om die paroolraad se besluit te hersien omdat met die oorweging van die twee se parool nie gekonsulteer is met die slagoffer, Victor Mlotshwa, nie, dui op swak interne prosesse en onbillike en diskriminerende optrede teenoor Jackson en Oosthuizen.

 

'Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het onlangs na die moord op Tazne van Wyk erken daar is fout met die paroolstelsel en dat dit “onvoorspelbaar” is.'

 

"Die VF Plus gaan bloot oor die meriete van die aangeleentheid druk op die minister en die departement plaas om die ‘Doodskis Twee’-flater reg te stel en aan die families van die twee verskoning vra omdat persone aan wie parool toegestaan is, ook ‘n reg op billike behandeling het," sê Mulder.

JacoMulderJustisieParool

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!