Plakkate, slagspreuke en die “nuwe” politiek

2016-09-29
Dr Pieter Mulder

Met volle erkenning aan Protea Boekhuis). Die boek kan ook bestel word op Pretoria Boekhuis se webwerf: http://www.proteaboekhuis.com/


Plakkate, slagspreuke en die “nuwe” politiek

’n Student en ’n plakkaat is moeilikheid.

In die tyd toe die HNP nog aan verkiesings deelgeneem het, het hulle Stem vir Jaap Marais-plakkate orals opgesit.

Die volgende nag het die studente die plakkaat “effens” gewysig. Dit is natuurlik ’n ernstige oortreding en strafbaar.

Die volgende oggend staan daar onder die foto van Jaap Marais se gesig: tem vir aap Marais. Die studente het die “S” van “stem” en die “J” van “Jaap” uitgevee!

’n Soortgelyke plakkaat met die onderskrif: Die Leier is na Die eier verander deur die “L” uit te vee!

Met die ontwerp van ’n plakkaat moet in ag geneem word hoe dit dalk teen jou gebruik en misbruik kan word.

In ’n stadsraadverkiesing in Pretoria het die HNP besluit om ’n eenvormige plakkaat vir al sy kandidate te gebruik. Hou Pretoria wit is as slagspreuk boaan die plakkaat geskryf met onderaan: Stem …
Elke kandidaat vul dan net sy naam in, byvoorbeeld: Hou Pretoria wit; Stem Nel. Ongelukkig vir die HNP was hulle kandidaat in die een wyk meneer Swart. Sy plakkaat het toe gelui: Hou Pretoria wit. Stem Swart! Die media het heerlik foto’s hiervan geneem en met die veldtog gespot.

In Despatch was die VF Plus se kandidaat in ’n stadsraadverkiesing Kritzinger Mey. Op sy plakkate het groot gestaan: Stem vir Mey. Sy opponent het die dag met die stemming by die hek na die stemlokaal gestaan en ’n laaste poging aangewend om die kiesers te oortuig om vir hom te stem. Elke kieser wat verbygeloop het, het hy gegroet en gesê: “Stem asseblief vir my!”

Die VF Plus-kandidaat Mey het gewen. Hy glo dat die opponent se laaste poging hom beslis gehelp het.

Richard Nixon, ’n vorige Amerikaanse president, se slagspreuk vir sy verkiesing was: “Nixon is the one!”

Sy opponent kon nie die slagspreuk oortref nie. Hy het toe dertig jong dames gekry om voor die grootste televisiestasie se kantore te staan, elkeen met ’n Nixon-plakkaat. Wat die dames met mekaar in gemeen gehad het, was dat almal baie vér en duidelik swanger was! Groot foto’s van die swanger dames met die slagspreuk Nixon is the one het die volgende dag in al die media verskyn!

Slagspreuke hoef nie net te vermaak nie. Toe Ted Kennedy, die jongste van die Kennedy-broers, homself beskikbaar gestel het vir die presidentskap, het ’n skerp bewoorde slagspreuk hom in sy spore gestuit.

Ted het ’n ongelukkige verlede. Een aand, ná ’n partytjie, het hy met ’n sekretaresse oor ’n bruggie gery en met sy motor in die water beland. Ted het uit die motor gekom, maar die sekretaresse het verdrink. Die ware feite oor waarheen hy met die dame op pad was, het nooit uitgekom nie.

Ted het sy veldtog begin deur sy opponent met slagspreuke aan Watergate, die Amerikaanse afluisterskandaal, te verbind. Die opponent het geantwoord met net een slagspreuk wat groot op advertensieborde en op bufferplakkers aangebring is: Nobody drowned at Watergate! Ted het kort hierna aangekondig dat hy onttrek as presidentskandidaat.

Elizabeth Taylor, bekende Hollywoodse rolprentster, se sewende huwelik was met John Warner, ’n Amerikaanse politikus. In sy verkiesingsveldtog het hy haar bekendheid as rolprentster baie doeltreffend gebruik om stemme vir homself te werf. Sy arme opponent het nie ’n antwoord hiervoor gehad nie. Uiteindelik het hy ’n gepaste slagspreuk gekry: Why should Elizabeth Taylor’s seventh choice be our first!

Dit is nie net in Amerika waar mooi vroue gebruik word om kiesers te beïnvloed nie. My broer Corné het dit in Randfontein gedoen. Corné verloor sy eerste verkiesing in die kiesafdeling Gezina, ’n voorstad van Pretoria. Kort daarna word hy weer genomineer in Randfontein. Ons begin sy veldtog met ’n plakkaat wat lui: Stem vir ’n wenner, stem vir Corné Mulder.

Hierdie slagspreuk het sy opponent baie geïrriteer – veral in die lig van Corné se nederlaag kort tevore in die Gezina-kiesafdeling. Hy reageer deur onder elkeen van ons “wenner-plakkate” ’n plakkaat te plak wat in groot letters vra: Wat van Gezina?

Dit was ’n slim reaksie, maar ongelukkig te slim vir die kiesers. Die meerderheid kiesers het glad nie verstaan waarna die opponent se plakkaat verwys nie. Op stuk van sake is Gezina relatief ver van Randfontein af.

As finale reaksie het Corné ’n skets van ’n mooi meisie laat maak. Die onderskrif het gelui: Wat van Gezina? Ek is Gezina en ek stem vir Corné. Die skets is oral in Randfontein versprei en die kiesers het vir dae hieroor gepraat. Ons glo dat dit beslis ’n rol gespeel het in Corné se groot oorwinning hierdie keer. (Foto Disc I: 34 foto 34-1): Hierdie skets en slagspreuk het gehelp om ’n oorwinning in ’n Randfonteinse tussenverkiesing te behaal.

Corné se verkiesing het plaasgevind toe daar nog in kiesafdelings gestem is en plakkate van die plaaslike kandidaat alles oorheers het. Vandag word hoofsaaklik plakkate van die leiers se gesigte gebruik. Dit vereenvoudig verkiesings tot ’n tipe referendum tussen leiers. Navorsing wys dan ook dat min kiesers die nommer twee-kandidaat of die beleid van die party waarvoor hy of sy stem, kan aantoon.

’n Gesprek tydens die 2004-verkiesing met ’n dame wat ek goed ken en wat vir Patricia de Lille stem, bevestig hierdie navorsing.
Sy weet nie wat Patricia se party se naam of beleid is nie en ken nie die naam van enige ander kandidaat op Patricia se kandidatelys nie.

“Hoekom stem jy dan vir Patricia?” vra ek.

“Omdat ek van haar hou,” antwoord sy. So eenvoudig is dit vir haar en vir die talle kiesers wat in die nuwe politiek op hierdie wyse stem!

Toe Patricia se party in Kaapstad se metroraad met die ANC saamwerk, bel dieselfde dame my geskok, pak af teen Patricia en verduidelik dat sy nou by die VF Plus wil aansluit.

“Waarom wil jy nou by ons aansluit?” vra ek nuuskierig.

“Omdat ek op die oomblik meer van jou as van Patricia hou!” antwoord sy ewe eerlik. Beleid en ander ingewikkelde politieke sake speel steeds geen belangrike rol by haar nie.

Op ’n dag wil Hennie Botha van Stilfontein dringend met my praat. Hy is weer kwaad vir die DA nadat hy vir hulle gestem het. Ek weet nie hoekom hy daaroor met my wil praat nie. Uit nuuskierigheid staan ek hom tog te woord.

“Nou hoekom wil ’n DA met my praat?” begin ek die gesprek grappig-versigtig.

“Nee,” ontken hy dit heftig. “Ek is nie ’n DA nie, ek het net vir Tony Leon gestem. Jy weet, Doktor, die hele Stilfontein was vol van Leon se plakkate en ek hou baie van hom,” verduidelik hy. “Maar nou sit nie Tony Leon nie, maar hierdie ander DA-mamparra in die stadsraad. Ek ken die mamparra al jare, het saam met hom gewerk en hou niks van hom nie. Die ergste is dat my stem hom daar gebring het. Hoe kan ons dit regmaak?” vra hy aan my.

Nou, ná die verkiesing, kan ek nie veel daaraan doen nie. Hennie dink duidelik nog in terme van die “ou” politiek en verstaan nie die nuwe kiesstelsel nie.

Om te help, gee ek tydens ons gesprek aan hom ’n artikel waarin ek ses verskille tussen die “ou” en “nuwe” politiek opsom:

1a. In die “ou” politiek was goeie organisasie en huis-tot-huis-stemwerwing belangrik. Die kieser het vir ’n kandidaat gestem wat hy persoonlik ken of iewers in die kiesafdeling kon ontmoet het.

1b. In die “nuwe” politiek stem mense vir ’n kandidatelys en ’n politieke leier wat hulle nog nooit ontmoet het nie en slegs deur die media sal leer ken. Dit gee baie mag en invloed aan die media.

2a. In die “ou” politiek was dit belangrik om vergaderings te hou waartydens die kiesers die kandidaat verder kon leer ken deur vrae aan hom te vra.

2b. Omdat die media soveel belangriker geword het in die “nuwe” politiek, is vergaderings grootliks vervang met “roadshows” of media-aksies. Vergaderings sorg nie vir interessante, bewegende televisieprentjies nie. Daarom haal ’n optog oor die verandering van Potchefstroom se naam eerder die televisie-aandnuus as ’n vergadering daaroor.

3a. In die “ou” politiek is fondse ingesamel met “stryddae”, verkopings, donasies en ledegeld.

3b. In die “nuwe” politiek word fondse ingesamel met besoeke aan groot maatskappye en ryk individue. Met telefoonveldtogte word moontlike donateurs gevra om aftrekorders te teken, terwyl staatsgeld ook ’n rol speel.

4a. Stemdag het in die “ou” politiek ’n spesifieke atmosfeer gehad met baie helpers, rosette, tente, koeksisters, koffie en motors wat kiesers aanry om te kom stem.

4b. In die “nuwe” politiek is min van hierdie dinge oor. Stemdag is koud en onpersoonlik met ge-inkte duime, ID-dokumente en blou-en-wit baniere van die Onafhanklike Verkiesingskommissie.

5a. In die “ou” politiek het ’n ontevrede kieser berekend van die stembus af weggebly om so sy protes te wys deur ’n lae stempersentasie te veroorsaak.

5b. ’n Opposisiekieser wat in die “nuwe” politiek so wegbly of nie registreer nie, stem onbewustelik vir die opponent omdat die nuwe proporsionele kiesstelsel so werk!

6a. In die “ou” politiek is daar heftig geargumenteer teen inmenging deur die Verenigde Nasies in Suid-Afrika se sake.

6b. In die “nuwe” politiek word internasionale instrumente deur die opposisie gebruik om druk op die regering te plaas en ’n mediaboodskap oor te dra.

Of die artikel vir Hennie gehelp het, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat politici wat nie hierdie nuwe metodes aanleer nie, nie polities lank oorleef nie. Dit verklaar waarom baie van die “ou” politieke partye en “ou” politici nie lank ná 1994 uitgehou het nie.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!