President Ramaphosa moet dadelik SOE-verslag oor Digital Vibes aan parlement beskikbaar stel

2021-09-01
Philip van Staden

Dit is byna ʼn maand sedert die parlementêre portefeuljekomitee vir gesondheid ʼn besluit geneem het om te vra dat president Cyril Ramaphosa die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor Digital Vibes aan die komitee beskikbaar moet stel.

Die vorige komiteevoorsitter, dr. Sibongiseni Dhlomo, nou die adjunkminister van gesondheid, het tydens die vergadering van die portefeuljekomitee op 4 Augustus 2021 onderneem om die komitee se besluit uit te voer.

Hy sou ʼn skrywe rig aan die speaker van die parlement om te versoek dat die speaker die president moet versoek om die verslag aan die portefeuljekomitee beskikbaar te stel.

Die inhoud van die verslag sou dan bepaal of die komitee ʼn vergadering met die SOE ook moet aanvra. Die betrokke notule is tydens die vergadering op 18 Augustus 2021 goedgekeur.

Dit is tans onseker of hierdie opdrag wel uitgevoer is en die VF Plus het reeds tydens vandag se komiteesitting die nuwe voorsitter, dr. Kenneth Jacobs, versoek om aan die komitee verslag te doen oor hierdie aangeleentheid.

Die voorsitter het onderneem om die saak op te volg en om verslag te lewer by die eerskomende vergadering.

Dit is uiters noodsaaklik dat hierdie verslag nou dadelik beskikbaar gestel word. Die vertraging van die proses is straks ʼn aanduiding dat die verslag inligting bevat oor meer prominente persone wat by die korrupsieskandaal betrokke is as wat aanvanklik vermoed is en dat dit dalk hoë ANC-lede kan insluit.

Die VF Plus gaan nie verdere verskonings aanvaar dat die president se proses nog aan die gang is en dat mense wat in die verslag geïmpliseer word, eers die geleentheid gegun moet word om hul kant van die saak te stel nie.

Daar was voldoende geleentheid hiervoor in die portefeuljekomitee vir gesondheid. ʼn Voorbeeld is Zweli Mkhize wat drie geleenthede gehad het om sy saak te stel en dit elke keer van die hand gewys het.

Die VF Plus sal nie toelaat dat hierdie saak onder die mat ingevee word nie. Pres. Ramaphosa se weerhouding van die verslag van die publiek en die parlement is onaanvaarbaar en laat talle rooi ligte aangaan.

 

 

PhilipVanStadenGesondheid#CyrilRamaphosa#DigitalVibes

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!