VF Plus-voorstelle aan president om onrus te ontlont

2021-07-14
Die Redaksie

"Vanoggend se vergadering tussen president Cyril Ramaphosa en politieke leiers van Suid-Afrika was konstruktief en het die president onderneem om die voorstelle ter harte te neem en toe te pas waar moontlik," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

"Ek het dit as leier van die VF Plus benadruk dat die situasie ernstig is en dat daar so spoedig moontlik opgetree moet word om weer beheer oor die brandpunte te neem.

"Om dit te kan vermag moet veel meer soldate ontplooi word om die polisie te help en daar moet gefokus word op hoofroetes waar brandstof, kos en medisyne vervoer word en hierdie roetes moet swaar bewaak en gepatrolleer word.

"My voorstel was dat daar selfs weer 75 000 soldate ontplooi word soos in ‘n stadium verlede jaar om die inperkingsregulasies af te dwing. Die 2 500 wat tot nou toe ontplooi is, is veels te min.

"Die huidige Rampbestuurswet en die heersende aandklokreël van 21:00 tot om 04:00 gee die president reeds genoeg mag en bevoegdheid om sterk op te tree en indien die soldate ontplooi word ingevolge Artikel 201 van die Grondwet, is dit onnodig om ‘n nasionale noodtoestand te verklaar.

"Dit is belangrik dat die aandklokreël streng toegepas word en mense moet swaar gestraf word indien dit oortree word. Dit sal reeds ‘n groot impak maak op die onrussituasies.

"Daar moet ‘n sterk boodskap uitgestuur word dat die verbreking van regulasies soos dié nie geduld sal word nie.

 

"Ek het dit benadruk dat die VF Plus gekant is teen enige vorm van krygswet en dat die nasionale intelligensiestrukture van die polisie, die weermag en die staatsveiligheidsagentskap (SVA) hul werk nie behoorlik doen nie."

 

"Indien dit wel gedoen is, sou hierdie situasie nie ontstaan het nie en dan sou genoeg mense al ontplooi gewees het selfs voordat oud-president Jacob Zuma tronk toe is.

"Daar sal nouer samewerking moet geskied tussen die polisie en plaaslike veiligheidstrukture soos buurt- en plaaswagte. Dit is in almal se belang. Van hierdie private strukture beskik selfs oor beter misdaadintelligensie as die polisie self.


"Die polisie word nie behoorlik van toerusting voorsien nie. In KwaZulu-Natal moes private organisasies help om die polisie van ammunisie te voorsien.

"Die onrus is niks anders as sabotasie en ekonomiese terrorisme nie en ek het dit duidelik gemaak dat daar vinnig opgetree sal moet word om totale anargie af te wend.

"Een van die groot bydraende faktore vir die onrus en misdadigheid is ‘n nuwe virus in Suid-Afrika wat straffeloosheid genoem word.

"Mense dink hulle kan wegkom met misdaad. Statistiek dui daarop dat ‘n misdadiger ‘n 83%-kans het om weg te kom aangesien net sowat 17% van alle strafsake in suksesvolle vervolging uitloop.

"Misdadigers vrees nie meer die polisie nie en daar sal oplossings gevind moet word vir algemene misdaad soos amptenare wat korrupsie pleeg en daarmee wegkom.

"Sulke dinge het oor ‘n lang tydperk die aanname laat ontstaan dat misdaad nie gestraf word nie. Dit kan nie so aangaan nie. Mense wat die wet oortree, moet gestraf word," sê Groenewald.

MisdaadDrPieterGroenewald#CyrilRamaphosaProtesoptrede#JacobZumaanargie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!