Amptenare van Mbombela-munisipaliteit daag nie op vir belangrike GOP-vergaderings met inwoners van Hazyview en Witrivier

2021-05-11
Ken Robertson

Die VF Plus gaan die burgemeester van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit, Sibusiso Mathonsi, wat onder meer Hazyview en Witrivier bedien, versoek om op te tree teen amptenare wat geskeduleerde infrastruktuurkomitee-vergaderings met inwoners van dié twee dorpe nie bygewoon het nie.

Die vergaderings was vir 29 April in Witrivier en 5 Mei in Hazyview geskeduleer, maar geen munisipale verteenwoordiger of die ANC-wyksraadslid het opgedaag nie. Tydens die vergaderings sou die 2021/22-geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) bespreek word.

Die algehele agteruitgang en haglike toestand van munisipale infrastruktuur in Witrivier en Hazyview is onaanvaarbaar.

Dit is van kardinale belang dat hierdie komitee vergader en planne beraam om bestaande en nuwe infrastruktuur te bestuur en te ontwikkel. Tog ignoreer munisipale amptenare en ANC-wykraadslede enige poging van inwoners om die finansiële toekoms van die dorpe te bespreek.

Inwoners van die twee dorpe is gereeld sonder water weens ʼn jarelange gesloer met infrastruktuurontwikkeling en uitbreiding. Te veel vars water gaan ook daagliks verlore weens waterlekkasies wat veroorsaak word deur gebrekkige instandhouding en verouderde infrastruktuur.

Munisipale paaie word nie onderhou nie en dit belemmer enige poging om toerisme in die twee dorpe te bemark. Beide dorpe se algemene voorkoms, wat insluit nuwe straatligte, parke en sypaadjies, kort dringend aandag.

Plaaslike inwoners verdien ‘n plaaslike regering wat dienslewering en die ontwikkeling en instandhouding van infrastruktuur prioritiseer en die welstand van inwoners eerste plaas.

Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners van Mbombela om saam met die VF Plus op te staan en saam te staan om ‘n sterk boodskap aan die ANC te stuur dat die verval van die munisipaliteit nie langer geduld sal word nie.


Navrae: 076 687 2830 / 066 376 3329

HazyviewWitrivierKenRobertsonGeïntegreerdeOntwikkelingsplanMbombela-munisipaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!