ANC-regering in die Noord-Kaap oortree landswette tot nadeel van belastingbetalers

2020-08-22
Mnr. Michal Groenewald

Tydens ‘n vergadering van die parlementêre komitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) waar onder meer die stand van munisipaliteite in die Noord-Kaap bespreek is, het die vernietigende impak van ANC-binnegevegte op dienslewering weer sterk na vore getree.

Die ontbinding van die Pokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp, Pampierstat) het uitgestaan as 'n voorbeeld waar die belange van politieke faksies in die ANC op plaaslike en provinsiale vlak, duidelik swaarder geweeg het as die belange van die gemeenskap wat hulle veronderstel is om te dien.

Uit die voorleggings deur die administrateur by die munisipaliteit, sowel as lede van die provinsiale regering, was dit duidelik dat die toepaslike wetgewing en prosedures vir die ontbinding van munisipale rade ondergeskik gestel is aan politieke belange sonder om die wetlike implikasies daarvan in ag te neem. Die Pokwane-gemeenskap gaan lank reeds gebuk onder die wydlopende gevolge van swak dienslewering wat veroorsaak is deur politieke binnegevegte in die ANC-beheerde munisipaliteit.

Teen 1 Julie 2019 kon die Pokwane-munisipaliteit nog nie 'n begroting goedgekeur kry vir die 2019/2020-finansiële jaar nie. In terme van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, moet die burgemeester in só ‘n geval onmiddellik aan die provinsiale regering rapporteer, waarop die regering dan moet ingryp, om te verseker dat die munisipaliteit onder effektiewe finansiële administrasie geplaas word, asook dat die raad ontbind.

Op ‘n vraag van die VF Plus het die Noord-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Bentley Vass, aangedui dat 'n begroting vir die munisipaliteit wel in Julie 2019 deur die provinsiale regering goedgekeur is, maar sonder om die raad te ontbind soos deur die wet voorgeskryf.

Die LUR het verder aangedui dat hierdie slegs 'n “voorwaardelike goedkeuring” was op voorwaarde dat die munisipaliteit teen September 2019 sekere regstellende finansiële stappe neem. Die wet maak geensins voorsiening vir so ‘n “voorwaardelike goedkeuring” van 'n munisipale begroting nie.

Vass het verder verduidelik dat die munisipaliteit teen Februarie 2020 nog aan geen van hul voorwaardes voldoen het nie, waarop die provinsiale regering toe die raad in Maart ontbind het. Die raad het dus vir ‘n tydperk van agt maande onwettig gefunksioneer.

Alle uitgawes aangegaan na aanleiding van enige raadsbesluite in hierdie tydperk, was dus onreëlmatig. Bo en behalwe die feit dat al die raadslede wat aan hierdie stand van sake aandadig was, hul raadstoelae ontvang oor hierdie tydperk moet terugbetaal, moet hulle ook persoonlik aanspreeklik gehou word vir enige onreëlmatige besteding wat uit raadsbesluite gevloei het.

Die tyd het aangebreek dat raadslede hul verantwoordelikhede teenoor hul gemeenskappe besef en persoonlik aanspreeklik gehou word vir hul optrede.

Om sake verder vir vir die gemeenskap te vererger, het die administrateur aangedui dat die munisipaliteit, as deel van sy omkeerstrategie, belastings en heffings met tot tagtig persent verhoog het. Wetsgehoorsame belastingbetalers moet dus weereens die spit afbyt vir die korrupsie en wanbestuur van ontplooide ANC-kaders.

Dit is 'n absolute skande en lei tot 'n groeiende weerstand onder belastingbetalers.

Die VF Plus gaan 'n versoek rig tot die ouditeur-generaal (OG) om die Pokwane-munisipaliteit deeglik te ondersoek sodat gepaste optrede teen die persone verantwoordelik vir hierdie toestand by die munisipaliteit, ingestel kan word.

Die Pokwane-geval is weereens 'n voorbeeld waar die ANC-regering landswette aansien as blote riglyne, en nie gebiedende wetgewing wat op alle burgers van toepassing is nie.

Die VF Plus sal voortgaan om korrupte ANC-praktyke te ontbloot en verseker dat gemeenskappe regoor die land ingelig is oor die redes waarom die ANC in 2021 uit plaaslike regerings verwyder moet word.

Navrae: 079 409 8342

 

 

MichalGroenewaldPlaaslikeRegeringCoGTAAdministrasiePokwaneMunisipaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!