ANC se strewe na mag belemmer dienslewering in Tshwane-metro

2020-03-11
Mnr. Sakkie du Plooy

Die volgehoue onaanvaarbare gedrag van die ANC- en EFF-raadslede het gister weer veroorsaak dat die Tshwane-metroraad se diensleweringprosesse gekniehalter word deurdat dié twee partye nie die raadsvergadering bygewoon het nie.

Die waarnemende speaker, Zweli Khumalo, het die vergadering belê met die uitsluitlike doel om dienslewering te bespoedig, ʼn nuwe burgemeester aan te wys, die waarnemende stadsbestuurder se dienstydperk te verleng en die aangepaste begroting te bespreek.

Die burgemeesterspos is vakant gelaat nadat die burgemeester, Stevens Mokgalapa, op 26 Februarie bedank het. Hiermee saam is die burgemeesterskomitee ontbind en gevolglik kan geen politieke oorsig plaasvind nie. Die dienstermyn van die stadsbestuurder, Augustine Makgata, het ook tot ʼn einde gekom. Tenders en kontrakteuraanstellings lê intussen op ys.

Die gebrek aan dienslewering die afgelope drie maande kan net voor die deur van die ANC en EFF gelê word.

Die verdeeldheid in die ANC se eie geledere rakende die aanstelling van ‘n burgemeester speel ‘n bydraende rol. Opposisiepartye het gister ‘n gulde geleentheid gehad om ‘n burgemeester asook ‘n stadsbestuurder aan te stel om so weer die metroraad se werksaamhede ten volle te herstel.

Die VF Plus sal bly veg vir die inwoners van die Tshwane-metroraad se reg tot dienslewering en sal nie huiwer om probleme uit te wys en aan te spreek om die metro behoorlik te laat funksioneer nie.


Kontaknommer: 083 448 9473

SakkieDuPlooyTshwane-metroraad

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!