Chaos in Emfuleni toe amptenare hoor geen salarisse word betaal

2023-01-25
Gerda Senekal

Chaos het vandag uitgebreek in die raadsaal van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) toe daar amptelik aan raadslede en amptenare meegedeel is dat geen salarisse vir Januarie betaal gaan word nie.

Die burgemeester, mnr. Sipho Radebe, was gerieflik afwesig toe die aankondiging gedoen is en amptenare die raadsaal binnegevaar en alles wat voorkom omgegooi of beskadig het.

Hierdie nie-betaling van salarisse is die direkte gevolg van Emfuleni se finansiële verknorsing.

Feitlik geen dienste kan ook gelewer word nadat die hof ʼn beslagleggingsbevel aan Eskom toegestaan het teen Emfuleni nie.

Emfuleni se lopende bankrekening is kort daarna gevries en Eskom is vasbeslote om nie van die hofbevel af te wyk nie.

Die gevolg is dat geen kontrakteurs of grootmaat-diensverskaffers soos Randwater betaling ontvang nie.

Selfs die ingryping verlede week van die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het geen uitwerking gehad nie.

Tagtig persent van Emfuleni se amptenare het sedert die beslagleggingsbevel nie by die werk opgedaag nie omdat daar nie geld is om onderdele aan te koop of brandstof in voertuie te gooi nie.

Die VF Plus waarsku al vir jare dat die ANC se wanbestuur van Emfuleni dit tot totale verwoesting gaan lei.

Die enigste antwoord om Emfuleni van totale ondergang te red, is ʼn nuwe regering wat inwoners se belange op die hart dra en die politieke wil en vermoë het om die munisipaliteit reg te ruk.

Inwoners van Emfuleni kan nie langer gestraf word nie en verdien beter as die ANC.

Emfuleni#Chaos#geenSalarisse

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!