Ekurhuleni-metro besig om in vullisterrein te verander weens metroraad se onbevoegdheid

2021-02-12
Jennifer Glover

Die VF Plus het ‘n dringende beroep gedoen op die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Lebogang Maile, om in te gryp in die vullisverwyderings-krisis in die Ekurhuleni-metroraad.

Vullisverwydering in die Ekurhuleni-metroraad (Kempton Park, Benoni, Boksburg, Brakpan, Springs, Edenvale, Germiston, Nigel, Alberton en omliggende areas) is feitlik tot ‘n stilstand gedwing nadat die metroraad nagelaat het om diensverskaffers te betaal en tenders betyds te hernu.

Daar is tans ‘n agterstand van twee weke met vullisverwydering in sommige gebiede van die metro.

Van die vyf stortingsterreine wat aan die metro behoort, is slegs die Platkop-stortingsterrein naby Heidelberg in gebruik. Daar is daagliks sowat 50 vullisverwydering-vragmotors wat met tye ure wag om hul vrag af te laai.

Die ander vier is om verskeie redes nie operasioneel nie:

• Weltevreden : Staking deur sekuriteitswagte
• Rietfontein : Diensverskaffer se tender nie hernu nie
• Rooikraal : Diensverskaffer se tender nie hernu nie
• Simmer & Jack : ‘n Vuur het in September 2020 op die vullisterrein uitgebreek en dit is nog nie weer heropen nie.

Die Chloorkop-vullisterrein in Tembisa waarvan die metro ook gebruik maak, maar dit nie besit nie, het sy hekke gesluit weens wanbetaling.

Die VF Plus sal nie toelaat dat die dorpe en stede in Ekurhuleni verander in massiewe vullisterreine weens die onbevoegdheid van die metroraad nie.

Opgehoopte vullis is ‘n teelaarde vir rot- en muisplae en is ‘n gesondheidsgevaar. Onwettige vullisstortings is ook besig om toe te neem.

Hierdie is opnuut ‘n bewys dat die ANC-beheerde metroraad nie erns het met dienslewering aan sy inwoners nie.

Inwoners het die geleentheid om die onbevoegde metroraad met die plaaslike regeringsverkiesing later vanjaar te vervang met ‘n metroraad wat hul belange eerste sal stel.

Navrae: 072 217 1951

JenniferGloverEkurhuleniMetroraadVullisterreine

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!