Eskom saai paniek in nog ‘n groot Noordwes-munisipaliteit

2020-06-26
Die Redaksie

Vir die tweede keer binne ‘n maand het Eskom paniek onder sakelui in besonder gesaai in ‘n groot munisipaliteit deur eensydig voorgenome beplande kragonderbrekings in ‘n advertensie in ‘n plaaslike koerant af te kondig.

Kort op die hakke van Rustenburg, Brits en ander, was dit dié week die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) se beurt. Eskom het in Donderdag se uitgawe van die plaaslike Rekord-koerant ‘n advertensie geplaas met ‘n aankondiging dat inwoners vanaf 28 Augustus 2020 daagliks vir twaalf ure sonder krag sal moet klaarkom, vanaf sesuur soggens tot agtuur saans.

Eskom beweer in die advertensie dat dit gedoen sal word weens wanbetaling deur die Matlosana-munisipaliteit op uitstaande skuld van meer as R500 miljoen rand.

Die munisipaliteit betwis egter Eskom se weergawe. Na dringende navrae deur die VF Plus, het Farouk Tagaree, burgemeesterskomiteelid vir finansies, aan die party gesê dat die munisipaliteit wel by die afbetalingsooreenkoms gehou het, maar onlangs weens finansiële druk as gevolg van die Covid-19-pandemie, wel ‘n verminderde bedrag oorbetaal het.

Dit is volgens hom weens ‘n substantiewe afname aan inkomste weens die pandemie.

Belastingbetalers wat op datum is met hul rekeningbetalings in hierdie tyd, sal die ergste benadeel word en so 'n optrede van Eskom sal tot erge werkverliese lei.

Die VF Plus doen ‘n dringende beroep op Eskom en die Matlosana-munisipaliteit om hul geskille by te lê op ‘n wyse wat nie die gemeenskap benadeel nie. Matlosana het al genoeg gely onder die wanbestuur van ANC-beheerde instellings.

Vir enige hoop op beter plaaslike regering en gemeenskapsgerigte dienslewering is dit van kardinale belang dat die ANC minder as vyftig persent van die stemme in die volgende plaaslike verkiesing op hom verenig.


Navrae: 082 929 4542

Eskom#MatlosanaMunisipaleitHendrikJordaanKlersdorp

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!