Gevandaliseerde substasies laat Carletonville dae sonder krag

2020-01-21
Ben van der Berg

Die Merafong-plaaslike munisipaliteit ontneem Carletonville se belastingbetalers van hul fundamentele regte deur geen poging aan te wend om elektriese substasies te beveilig om sodoende gereelde vandalisme te verhinder nie.

Selfs die gemeenskaps-polisiëringsforum wat gereeld die substasies besoek, se hande is afgekap om die tipe misdaad hok te slaan weens lang gras wat die uitsig belemmer. Dit is die munisipaliteit se plig om die gras rondom substasies kort te hou en sodoende te sorg dat alles in ‘n werkende toestand is.

Die substasies word gereeld beskadig deur kwaaddoeners wat daartoe lei dat inwoners vir drie tot vier dae sonder krag is.

Die situasie kan nie langer voortduur nie. Betalende inwoners het die reg op deurlopende kragvoorsiening. Kragonderbrekings is lewensgevaarlik vir mense met ernstige respiratoriese siektes wat van suurstof-toestelle afhanklik is.

Die VF Plus het reeds verskeie gesprekke met die betrokke raadslede en senior amptenare gevoer om die sekuriteit by substasies te verskerp. Hierdie versoeke val telkens op dowe ore.

Die VF Plus sal volgehoue druk op die munisipaliteit toepas om te sorg dat inwoners nie verder verontrief word nie.

Hierdie is opnuut ‘n bewys van die ANC-regering se onvermoë om enige dorp of stad onder hul beheer te bestuur.


Kontaknommer: 082 671 2302

BenVanDerBergMerafongCarletonville

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!