Govan Mbeki-inwoners ly dors terwyl munisipale bestuur voete sleep

2023-01-24
Aranda Nel-Buitendag

Die VF Plus vind dit onaanvaarbaar dat die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (GMM) se departement van water en sanitasie voete sleep met die oplossing van die waterkrisis in Bethal terwyl inwoners vergaan van die dors.

Dié waterkrisis in die GMM wat Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda en Trichardt bedien, duur al sedert 2018.

Een van die bydraende faktore tot die probleem is dat die GMM tans sowat R595 000 000 aan Randwater verskuldig is.

Die VF Plus het reeds in 2019 die kollig op die krisis geskyn, maar die munisipaliteit reageer eenvoudig nie op die gemeenskap se hulpkrete nie.

Raadslede het self ingespring tydens die afgelope feesseisoen en het daagliks verseker dat watertenkwaens beskikbaar was. Dit is egter nie 'n volhoubare oplossing nie.

Tydens 'n oorsigbesoek aan die Rand-reservoir in Bethal, kon die VF Plus sien dat geen water vanaf Trichardt gepomp word nie. Die reservoir se watervlak bly pal tussen sowat 10% en 30%.

Die huidige waterkrisis wat die munisipaliteit ervaar, het nie oornag ontstaan nie.

Swak beplanning van munisipale kant speel ʼn groot rol. Infrastruktuur soos pyplyne, damme, watersuiweringsaanlegte en waterpompe wat nie in stand gehou word nie, dra by tot die probleem.

Waterlekkasies word nie vroegtydig herstel nie, wat water verlore laat gaan. Daar is oënskynlik geen kundiges op die gebied van waterbestuur in die GMM nie.

Intussen kan inwoners nie staatmaak op die watertenkwaens om volgens ʼn skedule, waarop die VF Plus aandring, water te verskaf vir sanitasie en ander huishoudelike doeleindes nie.

Die beheer van die watertenkwaens laat ook veel te wense oor omdat daar nie behoorlike beheer by die waterpunte is nie.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die munisipaliteit om die waterkrisis aan te spreek, veral nou te midde van 'n provinsiale hittegolf.

Toegang tot skoon en voldoende water is ʼn grondwetlike reg en die VF Plus sal toesien dat daardie reg deur die Govan Mbeki-munisipaliteit eerbiedig word.

ArandaNelBuitendagGovanMbekiMunisipaliteit#waterkrisis

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!