Hoofregter: Ontstellend dat mense soos Mkhwebane en Hlophe genomineer is

2021-10-04
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus vind dit ontstellend dat daar instellings en mense kan wees wat omstrede persone soos regter John Hlophe en die huidige openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, kon nomineer vir die pos van hoofregter van Suid-Afrika.

Mkhwebane se onbevoegdheid as OB is van só ’n aard dat daar tans ’n parlementêre proses gevolg word om van haar ontslae te raak.

Wat Hlophe, regter-president van die Wes-Kaap aanbetref, het die Regterlike Dienskommissie (RDK) die parlement reeds in Augustus vanjaar ingelig dat hy in ’n staat van beskuldiging geplaas is weens ’n beskuldiging van onbehoorlike beïnvloeding.

Luidens mediaberigte het groepe soos die Black Lawyers Association en Democracy in Action, vir Mkhwebane en Hlophe genomineer.

Hierdie twee persone se omstredenheid is juis in botsing met dít wat verwag word van persone wat bo verdenking ten opsigte van alle aspekte van die reg moet wees.

Die VF Plus sal daarom ten sterkste beswaar aanteken teen die moontlike aanstelling van enige van hierdie twee persone as hoofregter.

Die proses moet nou sy verdere loop neem en die VF Plus sal wag vir die paneel van regter Dhaya Pillay wat ’n kortlys van tussen drie en vyf regters aan president Cyril Ramaphosa moet voorlê.

Die president sal alle politieke leiers daarna om hul mening vra en na aanleiding van die nominasies sal ek as leier van die VF Plus my besware aanteken indien nodig.

Die nominasie van mense soos Hlophe en Mkhwebane wys daar is groot fout in Suid-Afrika en die VF Plus beskou dit as ’n aantasting van die integriteit van die land se regstelsel wanneer sulke mense genomineer word.

 

 

DrPieterGroenewaldGrondwethof#BusisiweMkhwebaneHoofregterJohnHlophe

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!