Landbou nie prioriteit vir Vrystaatse regering

2020-06-29
Jan van Niekerk

Die Vrystaatse regering bewys keer op keer dat hy geen erns het met die belangrikheid van kommersiële landbou nie.

Die landelike beveiligingsplan word nie effektief in die Vrystaat geïmplementeer nie en boere is eindelik op hul eie aangewese. Die toename in plaasaanvalle in die Vrystaat oor die afgelope paar maande dui op ‘n krisis en dat die regering faal met landelike beveiliging.

Die provinsiale regering het ook versuim om van die geleentheid gebruik te maak om aansoek te doen vir die droogtehulpbefondsing wat bewillig is, wat verder getuig van die regering se ongeërgdheid teenoor boere en dat landbouers nie op regeringshulp staat kan maak nie.

Die VF Plus veroordeel die vlaag plaasaanvalle wat die afgelope tyd in die provinsie kop uitsteek en die barbaarse wyse waarop hierdie aanvalle gepleeg word. Die skielike toename in aanvalle in die Vrystaat en die wreedheid wat daarmee gepaar gaan, moet as dade van terreur beskou en veroordeel word.

Die stryd wat Suid-Afrika se boere teen die elemente voer, veral met die voortslepende droogte in ag genome, is reeds ʼn wesenlike stryd om oorlewing. Daar kan nie van hulle verwag word om boonop ʼn oorlewingstryd teen misdaad te voer nie.

Dit is ‘n skande dat boere en hul naasbestaandes in vrees moet leef met die realiteit en onmenslike wyse waarop boere en hul gesinne gejag word. Geen persoon verdien dit om deur die hel te gaan van trauma, pyn en die dood van ‘n plaasmoord nie.

Die VF Plus sal nie ophou met sy stryd teen plaasaanvalle- en moorde nie, en eis dat die Vrystaatse regering verantwoording doen vir sy nalatigheid rakende droogtehulp en moedig boere aan om selfstandig te staan waar die regering faal om sy pligte betreffende landbouers se veiligheid na te kom.


Navrae: 083 743 2042

 

 

VrystaatJanVanNiekerkPlaasaanvallePlaasmoorde

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!