Mafube: Vrystaatse regering gee op

2021-05-04
Heloïse Denner

Die Vrystaatse uitvoerende gesag se besluit om sy Artikel 139-ingryping in die Mafube-plaaslike munisipaliteit (Frankfort, Tweeling, Villiers en Cornelia) te beëindig, is ‘n verdere bewys dat die ANC-regering nie daartoe in staat om op provinsiale vlak leiding te gee en die verval van munisipaliteite te keer nie.

Sedert die provinsiale regering se ingryping in 2017, kon die Mafube-administrasie nie daarin slaag om die munisipaliteit se prestasie te verbeter nie. Die finansiële posisie het tewens verswak en dienslewering het feitlik tot stilstand gekom.

Mafube gaan tot vandag gereeld gebuk onder watertekorte, vullis word nie verwyder nie en inwoners ontvang nie diensterekeninge nie.

Terwyl die administrasie bewus daarvan is dat 94,5% van sy inwoners se uitstaande skuld ouer as 90 dae is, het hy geen poging aangewend om die skrale invorderingskoers van 14% te verbeter nie.

Die munisipaliteit se debiteurerekening beloop meer as R630 miljoen terwyl hy sowat R600 miljoen aan sy krediteure verskuldig is.

Dit is onaanvaarbaar dat die Vrystaatse regering se Art. 139-ingrypings geen vrugte afwerp nie en dat dit, soos in hierdie geval, sonder enige goeie rede gestaak word. Die VF Plus het reeds ‘n amptelike vraag in die Vrystaatse wetgewer in hierdie verband ingedien.

Die enigste langtermyn-oplossing is vir inwoners van die munisipaliteit om met die komende plaaslike regeringsverkiesing saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap uit te stuur teen die ANC se vernietiging van die munisipaliteit. Die verval kan gestop word.



MafubeHeloiseDennerArtikel139Administrasie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!