Magareng-munisipaliteit: Tegniese onbeholpenheid laat Warrenton in duister

2021-02-23
Die Redaksie

Die Magareng-plaaslike munisipaliteit in die Noord-Kaap is chronies in die nuus, om al die verkeerde redes.

Inwoners van Warrenton, waar lede van die VF Plus ook moes ingryp omdat vullis reeds vir drie maande nie verwyder word nie, is keelvol vir die situasie.

Verlede jaar het wyk 4 (die ou spoorwegstasie en 'n deel van Warrenvale) kort-kort nie water gehad nie. Vroeër vanjaar was die probleem dat die toevoerpyp, wat reeds te dun is waar dit oor die Vaalrivier gaan, boonop groot lekplekke gehad het. Oor die afgelope dae is die kragkabel na wyk 4 herstel, waarna dit ontplof het, weer herstel is en weer ontplof het.

Wat veral kommerwekkend is, is dat die kragkrisis op die oog af nie deur ou of onvoldoende infrastruktuur veroorsaak is nie, maar deur tegniese onbeholpenheid.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die provinsiale departement van plaaslike regering gedoen om vas te stel of tegniese personeel oor die nodige kwalifikasies beskik. Dit behoort 'n praktiese bevoegdheidstoets in te sluit.

Een opsie vir die gemeenskap is om dieselfde roete te volg, as Kgetlengrivier (Koster en Swartruggens) in Noordwes. Dit sluit 'n regsproses in, sodat die gemeenskap self verantwoordelikheid vir dienslewering kan neem. Dit is egter 'n duur en tydrowende pad om te volg, wat voorkom kan word as die munisipaliteit self na die gemeenskap uitreik om die nodige hulp te verleen.

In 'n omgewing waar besproeiingsboerdery en kommersiële delwerye algemeen is, is die noodsaaklike tegniese vaardighede in die gemeenskap beskikbaar. Nogtans kan dit net aangebied word as die munisipaliteit die deur daarvoor oopmaak.

 

DiensleweringsproblemeGertVanHeerdenMagareng

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!