Mangaung: Rampdienste en klinieke bekommer

2020-03-14
Adriaan de Bruyn

Die VF Plus is bekommerd oor die stand van nooddienste en gesondheidsorg in die Mangaung-metro-munisipaliteit.

Drie van die sewe brandweerstasies in die metro is na bewering weens personeeltekorte gesluit. Die vraag ontstaan ook of die klinieke binne die metro die vermoë het om moontlike pasiënte wat met die koronavirus geïnfekteer is, te vervoer na geidentifiseerde hospitale.

Die munisipale ramptoelaag is volgens die Ouditeur-Generaal (OG) se ouditverslag nie in die vorige finansiële jaar vir sy voorgeskrewe doeleindes bestee nie. Die metro het R1,3 miljard se ongemagtigde uitgawes gehad terwyl die metro agteruit gaan.

Die VF Plus sal ‘n brief aan die metro se taakspan skryf om indringend in te gryp in die stand van nooddienste en primêre gesondheidsorg in die metro. Die party sal ook met die LUR van samewerkende regering skakel in dié verband.

Die burgemeester laat toe dat belangrike dienste onder haar leierskap tot niet gaan en verloën derhalwe die mees kwesbare inwoners van die metro. Sy moet uit haar posisie verwyder word.

Dit is betreurenswaardig dat die mosie van wantroue vroeër die week nie geslaag het nie. Die VF Plus sal aanhou om voortdurend druk op die topbestuur van die metro te plaas om dienslewering te eis.


Kontaknommer: 064 847 1560

AdriaanDeBruynMangaungBloemfontein

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!