Masilonyana: Drie salarisse vir een munisipale bestuurspos weens ANC-faksionalisme

2022-08-05
Willem Potgieter

Drie persone ontvang tans salarisse vir die pos van munisipale bestuurder van die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit (Theunissen, Brandfort, Verkeerdevlei en Winburg).

Twee van dié persone is voorheen geskors en ontvang tans steeds die volle besoldiging as munisipale bestuurder.

Pule Tsikedi is in Junie 2021 deur die vorige munisipale raad geskors weens bewerings van bedrog. Ná sy appèl is hy in Maart vanjaar teruggeplaas in die pos. Die huidige raad het Tsikedi daarna weer in April vanjaar geskors.

Daarna is die tegniese bestuurder, Lungile Mokotele, aangestel as waarnemende munisipale bestuurder. Hy is egter in Junie 2022 geskors.

Die raad het die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering, Mxolisi Dukwana, hierop versoek om ʼn waarnemende munisipale bestuurder aan te wys. Sipho Thomas is daarop as waarnemende munisipale bestuurder aangestel tot die raad die proses vir ʼn permanente aanstelling afgehandel het.

Die dissiplinêre-prosesse met betrekking tot Tsikedi en Mokotele was duidelik gebrekkig en het gelei tot ʼn uitgerekte appèlproses.

Intussen is die inwoners van Masilonyana die slagoffers van swak dienslewering en word broodnodige fondse vermors op die onnodige salarisse van twee geskorste persone.

Die inwoners van Masilonyana verdien beter as die ANC.



 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!