Mokopane-landdroshof en speurtak al vier dae sonder krag

2021-09-10
Marcelle Maritz

Die VF Plus het Limpopo se LUR vir openbare werke, Dickson Masemola, versoek om dringend in te gryp nadat dit aan die lig gekom het dat die landdroshof en speurtak op Mokopane (Potgietersrus) al vier dae sonder krag is.

Die Mogalakwena-plaaslike munisipaliteit het die krag glo gesny weens wanbetaling.

Die VF Plus het ook ʼn dringende skrywe gerig aan die waarnemende munisipale bestuurder van die munisipaliteit, Hendrik Ngoepe, om die kragtoevoer na die entiteite tydelik te herstel in afwagting op betaling.

Alle sake by die landdroshof word tans uitgestel en die speurtak kan nie sy ondersoekwerk behoorlik doen nie.

Die VF Plus kan nie toekyk hoe die funksies van dié twee entiteite, wat uiters noodsaaklik is in die geveg teen misdaad, tot stilstand kom deur die nalatigheid van die nasionale departement van openbare werke wat verantwoordelik is vir die betaling van die kragrekeninge nie.

Die LUR het aangedui hy sal sonder versuim die probleem met die nasionale leierskap opneem.

Die VF Plus sal aanhou om druk toe te pas om die situasie so spoedig moontlik op te los.



 

 

MarcelleMaritzMokopaneKragprobleme

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!