Moody’s: Afgradering lank op kaarte weens ANC-beleid en wanbestuur van fiskus

2020-03-28
Wouter Wessels

Moody’s se afgradering van Suid-Afrika na rommelstatus kon nie op ʼn slegter tyd gekom het nie, maar dit was lank reeds te wagte vanweë die ANC-regering se jarelange wanbestuur van die fiskus en ʼn gebrek aan fiskale dissipline onderliggend aan ʼn afbrekende ekonomiese beleid.

Daar is toegelaat dat staatsentiteite weens korrupsie, wanbestuur en plundering, veral in die tyd van staatskaping, tot bankrotskap gedryf is. Dit was die hoofrede agter Moody’s se besluit. Moody’s noem gebrekkige kragvoorsiening en die feit dat dit jare sal duur om Eskom se funksionering te herstel, pertinent as een van die redes vir die afgradering.

Die besluit was nie te wyte aan die huidige omstandighede in Suid-Afrika vanweë korona wat ʼn negatiewe effek op die globale ekonomie het nie.

Februarie se begroting van die minister van finansies, Titi Mboweni, kan nie realiseer nie aangesien dit gegrond is op aannames en projeksies wat gemaak is voor die uitwerking van korona en die afgradering van Moody’s.

ʼn Nuwe begroting sal daarom by die eerste geleentheid ter tafel gelê moet word na die huidige inperking.

Moody’s wys daarop dat die nodige strukturele hervorming vir ekonomiese groei nie plaasvind nie. Dit sluit in stappe om staatskuld te beperk. Die huidige vooruitskatting is dat die land se staatskuld 91% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) gaan uitmaak teen 2023.

Dit is buite beheer en onvolhoubaar en met die afgradering gaan dit selfs moeiliker word om die skuld te finansier aangesien die rentekoerse minder gunstig sal wees. Dit skep krisis op krisis.

Die VF Plus wys jare reeds op die noodsaaklikheid van ʼn nood-reserwefonds. Dit word nou reg bewys aangesien die land nie die fondse het om as ʼn buffer te dien vir die korona-krisis nie en die fiskus moet nou leeggetap word hiervoor.

Daar is onder die huidige omstandighede nie meer ʼn kans dat die ekonomie kan groei nie. Die land is reeds in ʼn tegniese resessie met groeiende werkloosheid en die afgradering, samelopend met die uitwerking van korona, voorspel niks goed vir die toekoms nie.

Dit maak dit nou van die allergrootste belang om ingrypende veranderings te maak om fiskale beleid en dissipline te verbeter. Strukturele hervormings is onontbeerlik om staatsentiteite te omvorm sodat dit nie langer ʼn las vir die staat is nie.

Die VF Plus hou steeds vol dat privatisering van staatsentiteite jare gelede reeds moes plaasvind. Dit moet nou gedoen word.


Kontaknommer: 082 674 6670

WouterWessels#Covid19SouthAfricaMoody'sRommelstatus

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!