Noordwes-inwoners staar watertekorte en verdere verval van infrastruktuur in gesig

2021-05-26
Mnr. Michal Groenewald

Inwoners van onder meer Mahikeng en Lichtenburg staar watertekorte en 'n verdere verval van infrastruktuur in die gesig nadat Sedibeng-water kennis gegee het dat operasionele en onderhoudsdienste oor 'n wye gebied in Noordwes, vanaf 1 Junie 2021 opgeskort word weens agterstallige skuld en wanbetaling deur munisipaliteite.

Sedibeng-water het op 25 Mei 'n skriftelike opdrag aan sy werknemers gestuur om op 1 Junie alle operasies en dienste aan munisipaliteite wat onder die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit val, te staak.

Die hoofstad van Noordwes, Mahikeng, sowel as Lehurutse en Ratlou, word deur hierdie distriksmunisipaliteit bedien.

Opdrag is ook gegee dat watervoorsiening aan die Ditsobotla-plaaslike munisipaliteit wat Lichtenburg en Coligny bedien, op 1 Julie gestaak moet word. Sedibeng-water voer aan dat die munisipaliteite bloot weier om te betaal vir dienste en watervoorsiening wat deur Sedibeng-water gelewer word.

Die betrokke gebiede beslaan bykans die helfte van die oppervlak van Noordwes.

Die betrokke gemeenskappe ly reeds lank onder die gevolge van wanbestuur en korrupsie in hierdie ANC-beheerde munisipaliteite. Gedurige onderbrekings in water- en kragvoorsiening weens wanbetaling deur munisipaliteite in Noordwes is aan die orde van die dag.

Sakelui ly groot skade en onderbrekings in watertoevoer skep gesondheidsrisiko’s vir inwoners en ondermyn die nasionale poging om Covid-19 hok te slaan. 'n Klem op higiëne is juis die hoeksteen vir die bestryding van die pandemie.

Tydens 'n onlangse oorsigbesoek van die parlementêre komitee vir Cogta aan Noordwes, is vasgestel dat Noordwes letterlik een die mees vervalle provinsies in die land is.

Hierdie episode is nog 'n klassieke voorbeeld van die ANC in regering waar die aksies van die regering 'n wesenlike gevaar vir inwoners inhou.

Dit is ironies dat die oorgrote meerderheid van hierdie landelike inwoners in die verlede klokslag die ANC by die stembus ondersteun het en nou moet ly onder ANC-wanbestuur.

Die VF Plus het reeds die kwessie onder die aandag van die parlementêre portefeuljekomitee vir Cogta gebring.

Die VF Plus het voorts met Obed Bapela, die adjunkminister van Cogta, in gesprek getree om in te gryp in hierdie wanbestuurde munisipaliteite.

Kiesers moet in die komende verkiesing saamstaan, opstaan en sterkstaan om met hul stem te verseker dat die ANC uit plaaslike regering verwyder word.

Dit kan nie toegelaat word dat gemeenskappe langer uitgelewer word aan die gevolge van die ANC se wanbestuur nie.



 

NoordWesMichalGroenewaldSedibengWaterWatertekorte

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!