Openbare Beskermer (OB) versoek Ekurhuleni-metroraad om bejaarde inwoners se titelaktes beskikbaar te stel

2019-11-04
Jennifer Glover

Geregtigheid het vandeesweek na jare vir talle bejaardes geseëvier toe die Openbare Beskermer (OB) die Ekurhuleni-metroraad versoek het om uitstaande titelaktes aan inwoners van die woongebied Farrarmere Gardens in Benoni aan hulle te oorhandig.

Mev. Drienie van Wyngaarden het in 2013 op aanbeveling van die VF Plus, 'n klag namens meer as honderd inwoners by die OB ingedien omdat die Ekurhuleni-metroraad gesloer het met die beskikbaarstelling van titelaktes vir die HOP-huise waarin hulle woon.

Die VF Plus het bystand verleen met die opstel van die klag aan die OB. Die langdurige proses is uiteindelik beloon met die OB se verslag wat op 31 Oktober vanjaar voor die metroraad gedien het.

Die OB se aanbevelings is goedgekeur en die burgemeester, Mzwandile Masina, moet binne sestig dae verslag doen rondom die implementering van remediërende aksies soos deur die OB voorgestel is.

Die voorstelle is soos volg:

• Die implementering en finalisering van die regulering en oordrag van die eiendomsprogram (RETRO) moet binne sestig werksdae geskied;
• Bevestiging van wettige inwoners binne dertig werksdae;
• Uitsettings wat sonder behoorlike rede gedoen was moet omgekeer/reggestel word;
• Buitengewone hoë huurgelde moet reggestel word en die nodige wysigings deur die Ekurhuleni-metro-munisipaliteit moet binne dertig werksdae geïmplementeer word in terme van die Nasionale Kredietwet en die Munisipale Stelselswet.

Die VF Plus is dankbaar dat geregtigheid uiteindelik geseëvier het en dat bejaardes nou wettige eienaarskap kan neem van die huise waarin hulle lank reeds woon. Die VF Plus sal onverpoos veg vir gemeenskappe se regte.


Kontaknommer: 072 217 1951

JenniferGloverEkurhuleni

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!