Ramaphosa-uitsprake oor rassisme: Daar is ‘n grondwetlike plig op die president om nasiebou te bevorder

2020-06-08
Dr Pieter Groenewald

Daar is ʼn grondwetlike plig op die president van Suid-Afrika om nasiebou te bevorder, en dit is daarom onaanvaarbaar dat die uitlatings van pres. Cyril Ramaphosa tydens die afskop van die ANC se veldtog teen rassisme, eerder onnodige wrywing kan veroorsaak.

Wanneer ʼn president van ʼn land ʼn ophef maak van net sekere uitsonderlike voorvalle, soos die dood van George Floyd in Amerika, maar oor ander gruweldade soos plaasmoorde swyg, dan sal hy nasiebou nie bevorder nie.

Die dood plaaslik van Collins Khosa in April vanjaar nadat hy aangerand is deur lede van die weermag en metro-polisie, is ʼn verdere voorbeeld hiervan.

Dit is bekend hoe president Ramaphosa in antwoord op ʼn twiet van pres. Donald Trump van Amerika lank moorde op wit boere in Suid-Afrika ontken het en eers toegegee het dit vind plaas nadat die VF Plus in November 2018 groot druk in die parlement tydens vraetyd op hom geplaas het.

In enige samelewing is daar altyd ekstremiste onder alle bevolkingsgroepe en dit is juis die verantwoordelikheid van politieke leiers en veral van ʼn president om daarteen te waak om enkele gevalle nie te veralgemeen as die denke van alle mense nie van ʼn sekere bevolkingsgroep nie.

In ʼn land soos Suid-Afrika met sy diverse bevolkingsamestelling moet die president alle vorme van rassisme, van swart en van wit, veroordeel. Alle mense se lewe is belangrik. Dit is die grondwetlike en morele plig van ʼn president om dit te erken en te bevorder.


Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

DrPieterGroenewald#CyrilRamaphosa#CollinsKhozaRassisme#GeorgeFloyd#Plaasmoorde

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!