Regte geluide met MTBR, maar implementering sal faal

2021-11-11
Wouter Wessels

Soos sy onmiddellike voorgangers, blyk dit dat die nuwe minister van finansies, Enoch Godongwana, die land se begrotingsuitdagings raaksien en selfs oplossings daarvoor aan die hand doen.

Tot nou toe het woorde geen dade van die regering gewek nie. So lank as wat die ANC-regering aan sy huidige beleidsrigtings vaskleef, sal geen vordering gemaak word aan die land se benarde fiskale situasie nie.

Minister Godongwana het vandag met sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) die noodsaak vir ekonomiese groei en die noodsaaklikheid van beleggingsekerheid erken.

Dit word egter nie net in die wiele gery deur beleidsonsekerheid nie, maar deur beleid en beperkende wetgewing wat beleggers afskrik en skadelik is vir ekonomiese groei. Korrupsie en infrastruktuur-agteruitgang vererger die situasie.

Staatskuld is buite beheer en staan tans op R4.314 biljoen. Die finansieringskoste op die skuld beloop R269 miljard wat beteken dat 21 sent uit elke rand gebruik word om die skuld te diens. Hierdie koste gaan na raming toeneem tot R365.8 miljard teen 2024/25.

Die toekomsvooruitsigte lyk ook onseker met staatskuld wat in 2025/26 na raming 78% van die land se BBP gaan beloop.

Die staat se salarisrekening neem steeds vinniger toe as die groei in die land se BBP.

Staatsondernemings plaas toenemend ʼn onhoubare las op die fiskus. Juliemaand se onrus en gepaardgaande plundering het Sasria uitgeput en ʼn onvoorsiene R11 miljard as aan dié onderneming toegeken.

Die Padongeluksfonds (Pof) se laste beloop R450 miljard.

Mislukte staatsentiteite kan nie langer gedra word nie en moet nou geprivatiseer word.

Die minister het gepraat oor strukturele ekonomiese hervorming, maar geen konkrete plan is op die tafel geplaas om die land se energiekrisis met betrekking tot Eskom se ineenstorting aan te spreek nie. Ook hier is privatisering die enigste uitweg.

Om die fiskale posisie van Suid-Afrika volhoubaar te verbeter, moet uitgawes besnoei word. Die aanpassingsbegroting besnoei nie uitgawes nie en bevat eerder verkeerde prioriteite wat ekonomiese groei striem.

Daar is te veel onnodige uitgawes en verkeerde prioriteite. Altesame 27 miljoen Suid-Afrikaners is nou grootliks afhanklik van maatskaplike toelae om te oorleef.

Dit is bykans 10 miljoen meer as sowat twee jaar gelede en is totaal onvolhoubaar sonder ekonomiese groei en gepaardgaande werkskepping.

ʼn Enkele ligpunt soos die geringe ekonomiese groei wat in 2021 beleef word, is grootliks te danke aan verhoogde kommoditeitspryse en gaan nie met werkskepping gepaard nie.

Dit bewys dat die regering nie 'n gunstige omgewing vir die privaat sektor skep om werk te skep nie. Geen plan sal eindelik werk onder die ANC en sy skadelike beleid nie.

 

WouterWessels#Finansies#MTBR#EnochGodongwana

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!