Spanning in Prieska oor mynbou: VF Plus bekommerd oor ekonomiese gevolge

2021-05-10
Dr. Wynand Boshoff

Oor die afgelope weke was Prieska in die Noord-Kaap herhaaldelik in die nuus weens inwoners se ontevredenheid met hernude kopermynbou by Copperton, buite Prieska. Die VF Plus is bekommerd daaroor dat spanning hieroor opbou en die meestal vreedsame omgewing destabiliseer.

Vrees dat die betrokke mynmaatskappy sy eie werkers gaan "invoer", eerder as om van plaaslike arbeid gebruik te maak, lei tot woede onder Prieska se groot aantal werkloses. Ervaring elders in die provinsie is dat erts, sonder waardetoevoeging, per vragmotor uit die provinsie verwyder word. Die enigste blywende gevolg is vernietigde paaie.

Die afgelope twee weke het ontstoke inwoners die in- en uitgange van Prieska kort-kort versper om hul ongelukkigheid te toon. Bande is gebrand en ondernemings is herhaaldelik gedwing om hul deure te sluit.

'n Hofbevel van Orion Minerals teen die geweldpleging, beskerm slegs die myn en die pad daarheen. Betogers het blykbaar steeds die vrye reg om bande in die dorp te brand en diegene wat wil werk, te intimideer.

Sakelui wat intimidasie teen hul ondernemings en werkers by die polisie wou aanmeld, is diens geweier. Polisiebeamptes voer aan dat die betoging wettig is en daarom weier hulle om intimidasieklagtes te aanvaar of in die voorvalleboek aan te teken.

Met vanoggend se afsperring van die dorp het die spanning 'n geur van rassisme gekry. 'n Ooggetuie het op Facebook uitgevaar teen 'n "plaasboer" wat 'n ma met haar baba agterop 'n bakkie vervoer het.

Die inskrywing, sowel as kommentare daarop, gebruik kru, rassistiese taal wat mense tot geweld aanhits. Die indruk word geskep dat slegs wit mense passasiers agterop bakkies vervoer en asof alle wit plaasboere dit doen.

Intussen het die bestuurder van die bakkie verklaar dat hy die ma en kind 'n geleentheid gegee het. Hy moes die risiko van Covid-19, wat tans in Prieska opvlam, in ag neem. Nog 'n opsie sou wees om hulle langs die pad te laat wag vir 'n ander geleentheid.

Die grondslag van die probleem is nie die optrede van "plaasboere" of enige ander groep nie, maar desperate werkloosheid. Dit is die gevolg van algemene ekonomiese agteruitgang, wat ook tot deïndustrialisering in Suid-Afrika gelei het.

Om ondernemings in Prieska te dwing om te sluit, gaan niks tot werkskepping bydra nie. Die feit dat daar geen skakeling met die sakegemeenskap van Prieska was om ontwrigting tot die minimum te beperk nie, dui daarop dat hul belange geminag word.

Terwyl die ANC vir die swak bestuur van die landsekonomie verantwoordbaar gehou moet word, moedig die VF Plus boere en die groter gemeenskap aan om hulle te hou by arbeidswette, veral waar veiligheid ter sprake is.

Dit is belangrik dat geweld en frustrasie deur plaaslike waardetoevoeging en goeie munisipale dienste vervang word. Kiesers in Prieska en elders het in Oktober vanjaar die geleentheid om daartoe by te dra, deur VF Plus-raadslede op munisipale rade te verkies.

 

WerkloosheidDrWynandBoshoffMyneProtesoptredePrieska

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!