Ventersburg-brandweerstasie: brandverliese op ANC se gewete

2021-04-28
Armand Cloete

‘n Vervalle brandweerstasie in die Matjhabeng-plaaslike-munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) is nog ‘n duur ANC-wit olifant wat geen waarde vir inwoners bied nie.

Die Mmamahabane-brandweerstasie is in 2015 deur die munisipaliteit ingehuldig. Sedertdien staan die stasie, wat belastingbetalers R14 miljoen gekos het, in onbruik en geplunder.

Die VF Plus het die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Skully Nxangisa, in ‘n brief gewaarsku dat verliese in die komende brandseisoen weens die wanfunksionele stasie op die gewete van die ANC-geleide owerhede sal wees. Die VF Plus eis ook dat die brandweerstasie moet funksioneer om inwoners te beskerm.

Die Vrystaatse regering, wat verantwoordelik is vir ‘n effektiewe rampbestuursplan in die provinsie, moet ook daarvan kennis neem dat die munisipaliteit oor net een brandweerwa beskik terwyl brandweerdienste aan ses dorpe in die munisipaliteit verskaf moet word.

Brande kan geblus word indien die owerhede hul pligte nakom. Die Mmamahabane-brandweerstasie is egter net nog ‘n voorbeeld van die ANC se wanbestuur van belastingbetalers se geld.

Die ANC-regering vernietig Matjhabeng. Met die komende plaaslike regeringsverkiesing kan inwoners hierteen opstaan en saam met die VF Plus staan om ‘n sterk boodskap te stuur dat dit nie langer geduld sal word nie. Die verval kan gestop word.

 

MatjhabengArmandCloeteVentersburgBrandweerstasie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!