VF Plus dien klag in by MRK oor rioolbesoedeling op Ventersdorp

2021-09-15
Pieter Steyn

Die VF Plus het gister ʼn formele klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien teen die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp) oor die voortgesette rioolbesoedeling op Ventersdorp. Die klag is ingedien nadat die VF Plus versoek het dat dringende herstelwerk aan die rioolwerke aan die suidekant van Ventersdorp gedoen word.

Onverwerkte riool stroom egter steeds deur die Tshing-woonbuurt tot in die Elandskuil- en Rietspruitdam.

Behalwe vir voorhandliggende gesondheidsgevare wat die besoedeling vir inwoners inhou, ly plaaslike toerisme en die landbou-ekonomie ook daaronder. Die Rietspruitdam is onder meer ʼn gewilde bestemming vir hengelaars. 

Besproeiingsboere is afhanklik van die twee damme se water en die kanaalstelsel word ook geraak.

Die ANC-beheerde munisipaliteit se voortgesette wanbestuur en nalatigheid ten koste van die hele gemeenskap van Ventersdorp, is skreiend en die skade aan die plaaslike ekonomie enorm.

Die JB Marks-munisipaliteit het reeds berugtheid verwerf vir die siniese wyse waarop die plaaslike ANC-leierskap skynbaar al sy energie bestee aan faksiegevegte en selfverryking, met geen oorweging vir die behoeftes en belange van die gemeenskappe wat hulle veronderstel is om te dien nie.

Die VF Plus sal die vordering van die MRK-ondersoek monitor en sal voortgaan om druk toe te pas om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is vir die verval en besoedeling, aanspreeklik gehou word.

Kiesers moet van die geleentheid gebruik maak om in die komende verkiesing saam met die VF Plus op te staan en saam te staan om die ANC uit die munisipale bestuur van JB Marks te verwyder.


Navrae: 083 292 1157

 

PieterSteynJBMarksMunisipaliteitVentersdorpRioolbesoedeling

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!