VF Plus dien mosie in om Kopanong-boorgate terug te kry

2023-01-25
Barry Lourens

Die VF Plus het vandag ʼn mosie by die Kopanong-plaaslike munisipaliteit ingedien om ʼn proses van stapel te stuur om beheer oor die munisipaliteit se boorgate van Bloemwater terug te kry.

Die munisipaliteit wat nege dorpe in die Vrystaat bedien; Edenburg, Trompsburg, Reddersburg, Smithfield, Philippolis, Bethulie, Fauresmith, Gariepdam en die rampgeteisterde Jagersfontein, gaan onder ʼn geweldige waterkrisis gebuk.

Bloemwater, wat die munisipaliteit van water voorsien, beperk die watertoevoer tot die munisipaliteit al vir ʼn jaar tot 30% weens uitstaande skuld van meer as R500 miljoen.

Boorgate in die munisipaliteit word geensins gebruik nie omdat die voormalige munisipale bestuurder, mnr. MM Kubeka, die beheer daaroor na bewering ingevolge ʼn diensooreenkoms op ʼn onregmatige wyse vanaf die munisipaliteit aan Bloemwater oorgedra het.

Hierdie ooreenkoms is in Januarie 2021 aangegaan en is glo nie deur die raad goedgekeur nie. Sodanige ooreenkomste moet op raadsvlak goedgekeur word.

Die VF Plus se mosie behels dat ʼn proses van stapel gestuur word om beheer oor hierdie boorgate terug te kry en dat die boorgate ingespan word om die waternood in die munisipaliteit te verlig.

Die VF Plus eis ook dat die huidige munisipale bestuurder, mnr. TG Lobe, dringend aan die raad terugvoer gee oor die stand van die uitstaande skuld aan Bloemwater, asook hoe dit gedelg gaan word.

Dit is absoluut onaanvaarbaar dat die inwoners van Kopanong vir langer as ʼn jaar gestraf word omdat die ANC-regering nie daartoe in staat is om basiese bestuursbeginsels, soos om by afbetalingsooreenkomste te hou, toe te pas nie.

Die inwoners van Kopanong verdien beter as die ANC.

KopanongBarryLourens#Bloemwater

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!