VF Plus-klag by MRK oor diversiteits-opleiding by Hoërskool Vishoek word ondersoek

2023-01-23
Adv Anton Alberts

Die klag wat die VF Plus by die menseregtekommissie (MRK) ingedien het oor verlede jaar se traumatiese ‘diversiteits-opleiding’ by die Hoërskool Vishoek, word amptelik ondersoek.

Die MRK het dit aan die VF Plus bevestig kort ná die aankondiging verlede week oor Schweizer-Reneke.

Die MRK het oor dié voorval in 2019 bevind nie die onderwysers, Elana Barkhuizen, of die Laerskool Schweizer-Reneke het hulle aan enige vorm van rassisme of diskriminasie skuldig gemaak nie.

Wat die Vishoek-aangeleentheid aanbetref, is die klag ingedien teen die DA se Wes-Kaapse onderwysdepartement, dié party se LUR vir onderwys, mnr. David Maynier en die groep kursusaanbieders.

Dit is gedoen nadat ʼn groot herrie op die dorp losgebars het en bekommerde ouers die VF Plus genader het om hulp.

Dit blyk egter dat die Vishoek-opleiding reeds een persoon se kop geëis het. Ironies genoeg nie een van die aanbieders of persone wat die opleiding gereël het nie, maar ʼn personeellid wat die kinders probeer beskerm het.

Die personeellid se naam is bekend aan die VF Plus, maar word weerhou om haar te beskerm.

Terwyl die opleiding aan die gang was, het sy bewus geraak daarvan dat van die leerlinge dit as erg traumaties ervaar en het die saal binnegegaan om te vra dat dit stopgesit word.

Einde verlede jaar is sy dissiplinêr aangekla vir haar ‘ontwrigting’ van die sessie en gevra om te bedank.

In die VF Plus se klag aan die MRK is onder meer gevra dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement geen verdere diversiteitsopleiding by skole mag aanbied terwyl die voorval ondersoek word nie.

Volgens ouers op die dorp het hulle verneem dat daar geen beletsel op die kursus geplaas is nie.

Die VF Plus doen ʼn dringende beroep op die WKOD om die kursus in die belang van alle leerlinge in die Wes-Kaap summier te skrap.

Kritiese rasteorie vorm die grondslag van die kursus. Dié teoretiese raamwerk verwerp gelykheid soos meeste kommentators dit volgens artikel 9 van die land se Grondwet verstaan. Derhalwe moet 'n grondwetlike liggaam, soos die MRK, oor die geskiktheid daarvan vir gebruik in skole 'n uitspraak gee.

Een van die aanbieders het onder meer die stelling gemaak dat slegs wit mense rassiste kan wees en swart mense nie, aangesien hulle nie mag het nie.

Christenskap is gelyk gestel aan wit patriargale oorheersing en uitsprake is teenoor die Christendom gemaak wat op die minste ongeoorloof is en op die meeste as godslasterlik ervaar kan word.

Uit klankopnames wat leerlinge wel van die sessie gemaak het, kan gehoor word dat leerders uiters geskok en emosioneel was.

Die een personeellid wat wel die kinders wou beskerm, het haar werk verloor.

Die DA moet toesien dat hierdie persoon dadelik weer aangestel word en moet ophou om met woorde te speel soos nou oor Schweizer-Reneke.

Me. Helen Zille van die DA het verlede week in reaksie op die MRK-bevinding gesê die destyds DA-jeugleier wat me. Barkhuizen as rassis gebrandmerk het, Luyolo Mphithi, het na die voorval ‘bedank’.

Die waarheid is egter dat die DA hom eerder beloon en bevorder het met ʼn aanstelling as parlementslid.

AntonAlbertsdiversiteits-opleiding#HoërskoolVishoek

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!