VF Plus maak voorstelle om Sol Plaatje-munisipaliteit se uitstaande debiteure in te vorder

2022-08-05
Kobus van den Berg

Die VF Plus het beter oplossings voorgestel vir die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit se pogings om sy lank uitstaande rekeninge in te vorder.

Die munisipaliteit begin op 8 Augustus met ʼn rollende opskorting van krag- en watervoorsiening vir rekeninge wat negentig dae of langer uitstaande is.

Volgens beplanning word elke woongebied elke drie maande vir hierdie invorderingsprojek geteiken.

Volgens die hoof finansiële beampte, mev. Lydia Tekisho, is die doel nie dat dienste onderbreek word nie, maar dat rekeninghouers betyds reëlings tref.

Op 31 Maart het die gemeenskap die munisipaliteit R1 518 miljoen geskuld. Baie van hierdie rekeninge is verskuldig deur sommige van die 24 000 hulpbehoewende huishoudings in die munisipaliteit. Dit is te betwyfel of hulle ooit die agterstand sal kan inhaal.

Die staat verplig munisipaliteite om dienste aan alle inwoners te lewer. Hulpbehoewendes moet egter korrek geregistreer en op datum wees om die subsidies te ontvang wat daarvoor bewillig is. Regstelling van hierdie registrasies is 'n belangrike doel van die projek.

Tans is Sol Plaatje se Eskom-skuld meer as R700 miljoen.

Dit kan direk aan wanbetaling van huishoudings, ondernemings en die staat toegeskryf word. Daarom is daar toenemende druk van die gemeenskap dat die staat en groot ondernemings met invorderings oor dieselfde kam as gewone huishoudings geskeer word.

By navraag het Tekisho gestel dat nie alle staatsdepartemente swak betalers is nie. Die departement van openbare werke skuld egter R700 miljoen van die R825 miljoen wat alle staatsdepartemente die munisipaliteit skuld.

Openbare werke, net soos Eskom, klop tans by die tesourie aan om hulp met skuldverligting. Eskom vra vir die oordrag van R85 miljard se skuld na die staatskas, met ander woorde dat die belastingbetaler daarvoor moet instaan.

Volgens die VF Plus in Sol Plaatje kan 'n beter meganisme gebruik word: Tesourie moet direk aan Eskom die bedrag oorbetaal wat die departement van openbare werke aan Sol Plaatje skuld.

Met boekinskrywings moet toegesien word dat die tesourie eintlik die departement met daardie bedrag bystaan wat die munisipaliteit betaal, wat sy rekening daarmee by Eskom vereffen.

Deur die geld direk aan Eskom te betaal, word verseker dat geen geld in die betalingsketting op iets anders bestee word nie. Sodoende word die finansiële posisie van die betrokke departement, munisipaliteit en Eskom met een lening verbeter.

Verder skuld ondernemings Sol Plaatje R450 miljoen, maar volgens Tekisho is die groot myne in die omgewing, buiten vir enkele dispute, grootliks op datum met hul munisipale rekeninge.

Verantwoordelikheid vir die skuldlas rus dus op kleiner ondernemings. Hierdie ondernemings benadeel tans die hele gemeenskap en die tyd het aangebreek om hierdie wanbetalers aan die kaak te stel.

 

 


Found this interesting? Share it!