VF Plus ontbloot korrupsie en bedrog by varsproduktemark in Matlosana

2021-05-07
Mnr. Michal Groenewald

Die VF Plus het vandag tydens 'n oorsigbesoek van die parlementêre komitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) aan die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Orkney, Stilfontein en Hartbeestfontein) dokumente aan die komitee voorgelê wat dui op grootskaalse bedrog en korrupsie by die plaaslike varsproduktemark. Die mark is onder die beheer van die munisipaliteit.

Die VF Plus het reeds in Februarie 2021 'n beroep op die ouditeur-generaal (OG) gedoen om dringend ondersoek in te stel by die mark nadat verskeie klagte van klaarblyklik finansiële wanbestuur by die mark deur die party ontvang is.

Uit die dokumente blyk dit dat 'n senior amptenaar by die mark vir homself 'n kliënte-markrekening geskep het, die rekening met R1,5 miljoen gekrediteer het en daarna bykans die volle bedrag by die kassiere van die mark in kontant onttrek het.

Die VF Plus het ook klagte ingedien by die spesiale ondersoekeenheid (SOE) en het onder meer die dokumente en naam van die betrokke amptenaar aan die eenheid verskaf.

Verdere verbandhoudende inligting wat die party van betroubare bronne verkry het, skets 'n deeglike beeld van die omvang van ‘n gesofistikeerde bedrog- en korrupsienetwerk by die mark. Hierdie inligting is ook aan die SOE oorhandig.

Die VF Plus het tydens die komiteevergadering daarop aangedring dat die LUR vir finansies in Noordwes, Matlepula Rosho, en die LUR vir plaaslike regering, Mmoloki Chailwe, dringend die boekhouding en finansiële bestuur by die mark ondersoek om verdere bedrog en korrupsie daar hok te slaan.

Die VF Plus het daarop aangedring dat gepaste stappe teen die munisipale bestuur geneem word wat skynbaar versuim het om hul bestuursverantwoordelikhede na te kom, ten spyte van sporadiese klagte van wanbestuur by die mark sedert 2016.

Dit is ‘n skande dat toegelaat word dat korrupsie en bedrog skynbaar onverpoosd voortduur by 'n munisipaliteit wat reeds sedert Desember 2020 deur die Valke ondersoek word.

Uit hierdie voorval blyk dit weereens dat die aptyt van ontplooide kaders en politici vir korrupsie, bedrog en wanbestuur nog geensins afgeneem het nie. Hierdie kanker in plaaslike regering moet eens en vir altyd uitgeroei word. Die optrede van hierdie korrupte amptenare en hul politieke meelopers staan aan die kern van die verval van dienslewering waaronder gemeenskappe landwyd ly.

Die VF Plus sal die vordering van hierdie ondersoeke monitor en voortgaan om druk toe te pas op alle vlakke van regering om te verseker dat die skuldiges aan die pen ry.

Gemeenskappe landwyd moet opstaan, saamstaan en op 27 Oktober met die verkiesing die ANC uit plaaslike regerings landwyd verwyder. Die verval kan gestop word.



 

MichalGroenewaldKorrupsieMatlosanaVarsproduktemark

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!