VF Plus plaas druk op Gautengse departement van gesondheid om watertoevoer by Steve Biko-hospitaal te herstel

2021-05-11
Adv Anton Alberts

Die waterprobleem by die Steve Biko-akademiese hospitaal in Pretoria is verlede week met die hulp van die VF Plus in Gauteng herstel nadat die party die Gautengs departement van gesondheid versoek het om dadelik ondersoek in te stel en die watertoevoer te herstel.

Die party het ook die Tshwane-metroraad versoek om vas te stel of die metro probleme ondervind met watervoorsiening aan die hospitaal.

Die VF Plus het die hospitaal-bestuur genader oor die omvang en oorsaak van die waterkrisis wat pasiënte vir etlike dae sonder genoeg drinkwater gelaat het.

Dit is onaanvaarbaar dat personeel en pasiënte in die hospitaal vir byna drie dae sonder water was en daar van brandslange gebruik gemaak moes word om toilette te spoel en pasiënte ver moes loop om drinkwater te gaan haal.

Pasiënte se lewe is in gevaar gestel omdat operasies uitgestel moes word en die nodige gesondheidsprotokolle, wat uiters belangrik is midde die Covid-19-pandemie, nie gehandhaaf kon word nie.

Die VF Plus het ‘n skriftelike vraag gerig aan die LUR vir gesondheid, Nomathemba Mokgethi, oor die toestand van die hospitaal se infrastruktuur en die duidelike gebrek aan instandhouding daarvan.

Die LUR moet ook verduidelik wat die oorsaak van die waterprobleem was, waarom dit gebeur het, waarom dit so lank geneem het om te herstel en watter voorkomende planne die departement in werking gaan stel om ‘n herhaling te voorkom.

Baie mense is afhanklik van provinsiale hospitale vir die nodige gesondheidsorg en daarom moet dié hospitale dieselfde kwaliteit diens lewer as private hospitale.

Onder die wanbestuur van die ANC is dit egter nie moontlik nie. Kiesers kan saam met die VF Plus hierteen opstaan en saam die VF Plus ‘n sterk boodskap stuur aan die ANC dat die verval van openbare gesondheidsorg nie langer geduld sal word nie.



GesondheidAdvAntonAlbertsWaterkrisisSteveBikoHospitaal

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!