VF Plus vra polisie om meer polisie-helikopters beskikbaar te stel in die bekamping van misdaad

2020-03-24
Kobus Hoffman

Die VF Plus gaan weer die Gautengse polisie versoek om toe te sien dat die polisie se lugvleuel ten volle funksioneer sodat dié afdeling ‘n ondersteuningsdiens met die bestryding van misdaad, veral transitorooftogte, kan lewer.

‘n Geldwa is vanoggend op die Ventersdorppad in Randfontein beroof nadat ‘n bakkie glo doelbewus met die geldwa gebots het. Drie motors het kort daarna by die botsingstoneel gestop waarna hulle met ‘n onbekende bedrag geld weggejaag het. Drie sekuriteitsbeamptes is beseer.

Die party het in Oktober verlede jaar as deel van die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng ‘n besoek aan die aan die Johannesburgse lugvleuel gebring. Helikopters was toe reeds vir maande lank by ‘n lugvaartmaatskappy in Midrand gestrand waar hulle vroeër gediens is. Die maatskappy is nie vir hul werk aan die helikopters betaal nie.

‘n Dringende beroep word op die polisie gedoen om geld te bewillig om diensverskaffers te betaal. Die wanbestuur van polisiehulpbronne en die ondermyning van die gemeenskap se reg op veiligheid kom neer op verraad.

Die VF Plus sal volgehoue druk plaas op die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, om in belang van die gemeenskap op te tree en polisielede te help om hul werk na behore te verrig.


Kontaknommer: 066 010 1066

KobusHoffmanGautengPolisieTransitorooftogte

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!