VF Plus wend hom tot provinsiale vlak vir ingryping by Mkhondo-plaaslike munisipaliteit

2022-08-04
Heinz Weber

Die VF Plus in Mpumalanga het hom hierdie week tot die provinsiale vlak van regering gewend om die Mkhondo-plaaslike munisipaliteit (Amsterdam, eMkhondo / Piet Retief) verantwoordbaar te hou vir die vinnige verslegtende situasie in dié munisipaliteit.

Ingryping in Mkhondo is dringend noodsaaklik voordat die agteruitgang van basiese dienslewering en die verval van munisipale infrastruktuur ʼn punt bereik waar dit onomkeerbaar is.

Die VF Plus het die burgemeester, Mthokozisi Simelane, herhaaldelik versoek om op te tree. Dit het op niks uitgeloop nie en die party het daarom vandag die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), mnr. Mandla Ndlovu, versoek om dringend oplossingstappe te implementeer in die munisipaliteit wat effektiewelik tot stilstand gekom het.

Daar is tans min tot geen dienslewering in dié munisipaliteit nie en Eskom het kragvoorsiening aan die munisipaliteit opgeskort.

Mkhondo se agterstallige skuld het in April 2022 meer as R316 miljoen beloop. As gevolg hiervan het kragonderbrekings so gereeld geword dat sommige gebiede net vir drie tot vier uur per dag krag het.

In die munisipale raad heers totale chaos met die speaker, Malusi Dlamini, wat nie die staande opdragte volg nie en geen strukture in plek het nie.

Die munisipaliteit het vir etlike maande nie 'n aangestelde hooffinansiële beampte of munisipale bestuurder nie.

Die mense van Mkhondo ly hieronder en die LUR het geen ander keuse nie as om in te gryp en oplossings te bied vir die wanorde.

Die VF Plus sal nie skroom om ingryping op nasionale vlak te versoek indien provinsiale ingryping nie vinnig genoeg daarin slaag om die benarde situasie om te keer nie.



 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!