VF Plus wys op gebreke in Rustenburg se geïntegreerde ontwikkelingsplan

2021-05-04
Abrie Rootman

Die VF Plus in Rustenburg het Vrydag skriftelik insette gelewer oor die voorgestelde geïntegreerde ontwikkelingsplan (Gop) vir 2021/2022 van die Rustenburg-plaaslike munisipaliteit. Die VF Plus het verskeie leemtes in die plan uitgewys en het konkrete voorstelle gemaak om dienslewering in die gebied te verbeter.

Inwoners van die groter Rustenburg-munisipale gebied wat Marikana insluit, gaan jare reeds gebuk onder die agteruitgang in dienslewering en die algemene verval van infrastruktuur. Dit sluit in die verval van paaie en strate, riool- en stormwaterstelsels asook probleme met die lewering van krag en water aan die gemeenskap.

Dit het dringend noodsaaklik geraak dat die onderhoud van hierdie basiese infrastruktuur die hoogste prioriteit in enige beplanning van die munisipaliteit geniet.

Die VF Plus het uitgewys dat hierdie verval van veral paaie, strate en rioolstelsels, ernstige finansiële risiko’s vir die munisipaliteit inhou. Die swak instandhouding van die padnetwerk kan lei tot siviele eise teen die munisipaliteit vir skade aan voertuie, asook vir beserings en die dood van padgebruikers weens die skynbaar nalatige optrede van die munisipaliteit.

Die munisipaliteit stel homself eweneens bloot aan eise waar die gesondheid van inwoners bedreig word deur voortdurende blootstelling aan rou riool wat in die strate afvloei. So ook die gereelde onderbrekings in watervoorsiening, veral nou tydens die Covid-19-pandemie waar higiëne so belangrik is om die verspreiding van die virus te beveg.

Geen doeltreffende groei kan plaasvind indien die munisipaliteit toelaat dat goeie basiese infrastruktuur, wat noodsaaklik is vir die doeltreffende bestuur van die munisipaliteit, sienderoë vergaan nie. Geen ernstige beleggers belê in ‘n omgewing wat deur verval gekenmerk word nie.

Dit is ironies dat hierdie ANC-beheerde munisipaliteit, wat daarna streef om ‘n “wêreldklas-stad te skep”, sy inwoners faal deur basiese dienste tot só ‘n mate te laat verval dat hul lewe en gesondheid daardeur bedreig word.

Inwoners van die Rustenburgse munisipale gebied moet in die komende verkiesing met hul stem opstaan en saamstaan om die ANC se bewind in dié munisipaliteit te beëindig en te vervang met sterk leierskap wat wel die strewe na ‘n wêreldklas-stad kan volbring. Die verval onder die ANC kan gestuit word.


Navrae: 076 819 0948

DiensleweringAbrieRootmanRustenburgGeïntegreerdeOntwikkelingsplan

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!