ANC-regering behaal wéér nuwe werkloosheidsrekord

2021-11-30
Heloïse Denner

Die styging van 0,5% in Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers sedert die tweede kwartaal vanjaar tot ’n nuwe rekordvlak van 34,9%, behoort vir die regering geen verrassing te wees nie.

Die uitgebreide werkloosheidskoers staan op sowat 46,6%. Dit sluit persone in wat moed opgegee het om werk te soek.

Hierdie syfers sluit die gevolge in van Juliemaand se onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng wat talle werkgeleenthede verlore laat gaan het. Dit is die twee provinsies wat verantwoordelik is vir meer as die helfte van die ekonomiese bedrywighede in die land.

Die regering moet erns maak met die feit dat hy besig is om die ekonomie te kniehalter en werkskepping in die wiele te ry weens sy ideologies gedrewe beleid, administratiewe rompslomp en onbevoegdheid wat veral die private sektor erg aan bande lê.

Die VF Plus beklemtoon gereeld die belangrikheid van die private sektor om ekonomiese groei te bewerkstellig.

Dié sektor moet gehelp, gekoester en aangemoedig word. Tog gebeur die teenoorgestelde, soos onlangs weer gesien is met die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming wat deur die ANC-regering gedryf en in die parlement ingestem is met ’n ANC-meerderheid.

Hierdie wet gaan die private sektor se beweegruimte om te groei en werk te skep verder ondermyn.

Omdat die staat misluk om die privaatsektor te bemagtig om werk te skep probeer die staat self werk skep deur gefaalde werkskeppingsprojekte en inisiatiewe, dit het ʼn bose kringloop van ekonomiese agteruitgang tot gevolg.

Hoe meer druk op die private sektor geplaas word, hoe meer sal die belastingbasis krimp en hoe meer sal die staat sukkel om die toenemende maatskaplike las as werkskepper te dra.

Die werkloosheidskoers bereik nou elke kwartaal nuwe rekordvlakke en dit sal aanhou styg solank as wat die regering volhard met sy beleid.

Wat die jongste verslag oor werkloosheid veral kommerwekkend maak, is die feit dat moedelose werksoekers, mense wat opgegee het om werk te soek, met 16% toegeneem het omdat die arbeidsmark al hoe meer ontoereikend en ontoeganklik raak.

Hierdie arbeidsmark word hoofsaaklik geskep en bevorder deur die private sektor en die feit dat dit toenemend krimp, soos wat lank voor die Covid-19-pandemie reeds gebeur het, kan net toegeskryf word aan die kortsigtige en skadelike beleid en regering van die ANC.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!