"Die feit dat Suid-Afrika op inperkingsvlak drie bly te midde van ‘n enorme styging in nuwe gevalle van Covid-19, bewys dat die regering verlede jaar totaal oorreageer het met uiters drakoniese maatreëls wat die ekonomie onnodige skade berokken het," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
"Tydens die eerste inperkingsperiode is die geleentheid nie benut om die gesondheidstelsel gereed te kry vir ‘n tweede golf nie. Veldhospitale wat ingerig was, is ontdaan gemaak wel wetende daar kan ‘n volgende golf kom.
"Die uiters strawwe en uitgerekte inperkingstydperk waartydens baie Suid-Afrikaners hul werk en inkomste verloor het, is nie na behore benut om gesondheidsdienste gereed te kry nie.
"Wat die jongste maatreëls aanbetref, is dit irrasioneel dat strande steeds gesluit bly terwyl die polisie soveel tyd, energie en geld bestee om enkelinge op strande aan te keer en te vervolg.
"Dit is eweneens irrasioneel om die alkoholverbod te verleng. Die verbod slaag nie in sy doel nie. Dit skep bloot onwettige handel, verminder staatsinkomste en ontneem baie mense in hierdie industrie van ‘n lewensbestaan met poste wat tot niet gaan.
"Daar kan hoogstens streng beperkings op die verkoop van alkohol wees, maar ‘n totale verbod doen meer skade as goed.
"Wat die entstof aanbetref, is dit onaanvaarbaar dat gevangenes volgens president Cyril Ramaphosa die middel gaan ontvang voor die gewone publiek wat vir die land se ekonomiese voortbestaan moet sorg.
"Die regering het misluk om 'n entstof vroegtydig te bestel en sy plan vir die uitrol daarvan is grootliks onrealisties," sê Groenewald.