Covid-19: Inperking nie meer nodig

2020-11-12
Die Redaksie

"President Cyril Ramaphosa kon die Covid-19-inperking totaal opgeskort het in die lig van die land se sukkelende ekonomie wat geen inperkings-remskoen langer kan bekostig nie," sê dr. Piete Groenewald, VF Plus-LP.

"Die president het self erken dat sekere segmente van die sake-sektor nog nie ten volle kan funksioneer met die bestaande inperkings nie en dit kan nie langer uitgerek word nie.

"Daar is weereens talle onduidelikhede oor presies wat die president se aankondiging bepaal en daar sal gewag moet word vir die publisering van die regulasies om duidelikheid hieroor te kry.

"Een voorbeeld is die aandklok-reël. Dit is nie seker of dit steeds van krag is nie. Die president het wel gesê die sake-ure vir drankverkope is terug na normaal, maar daar is nog onsekerheid oor ander bedrywe. 

"Wat die toerismebedryf aanbetref, is aangekondig dat internasionale vlugte weer toegelaat sal word, maar dit is onduidelik of daar enige beperkings gaan wees soos die toelating van mense uit lande met ’n hoë voorkoms van Covid-19.

"Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se ramphulpfonds (Ters) is wel verleng en eise kan nou ingedien word vir die tydperk eindigend op 15 Oktober waar dit voorheen net tot 15 September gegeld het.

"Dit is veral nodig vir die gastebedryf wat nog nie ten volle kan funksioneer nie en dié fonds dra daartoe by dat werkers nie in groot getalle afgelê word nie.

"President Ramaphosa is vaag met sy strukturele ontwikkelingsplan om die ekonomie weer te laat groei. Dit blyk dat die regering steeds staatmaak op die betrokkenheid van die privaatsektor om groei te bewerkstellig, met die regering self as projekbestuurder.

"Dit is moeilik om in te sien hoe die privaatsektor hierby sal inkoop. Indien die regering erns het met sy planne om ekonomiese opbloei te bewerkstellig, sal die privaatsektor die leiding moet neem met die bestuur van die program," sê Groenewald.

 

DrPieterGroenewaldCovid19

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!