"Omstandighede by kwarantyn-geriewe wat die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, geoormerk het vir die Covid-19-pandemie, sal drasties verbeter moet word," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.
"Minister De Lille het reeds verlede maand tussen 37 tot 52 persele geïdentifiseer wat insluit staatsgeboue, hotelle, vakansie-oorde en hospitale. Dit is egter nog nie bekend waar al hierdie geriewe geleë is nie en die probleem ontstaan nou dat dit wil voorkom of van hierdie plekke nog nie gereed is om hul doel ten volle te dien nie.
"Klagtes het gewissel van water en kos wat nie beskikbaar was nie, tot plekke wat vuil is en kos wat oneetbaar is. Die VF Plus het die klagtes deurgegee aan die departement en die van ministerie van gesondheid en het goeie terugvoer gekry. Daar is telkens vinnig opgetree om die probleme op te los.
"Dit wil egter voorkom of die departement van openbare werke en infrastruktuur nie genoeg aandag aan die geriewe geskenk het nadat dit geoormerk is as kwarantyn-sentrums nie en nie die nodige inspeksies gaan doen het om seker te maak dit voldoen aan die vereistes nie.
"Aandag moet nou aan hierdie geriewe geskenk word sodat dit gereed is vir indien daar ‘n skielike toeloop van pasiënte is," sê van Staden.