Gevolge van Covid-19 op gesondheidstelsel noodsaak groter waaksaamheid op paaie hierdie feestyd

2020-12-01
Mnr. Piet Mey

Debat in parlement oor padveiligheid met feestyd

 

"Die gevolge van Covid-19 op die land se gesondheidstelsel bring mee dat persone wat in die komende feesseisoen in motorongelukke beseer word en dringend mediese sorg benodig, straks nie so geredelik gehelp sal kan word soos voorheen nie," sê Piet Mey, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van vervoer.

"Die VF Plus doen daarom ‘n dringende beroep op alle padgebruikers om selfs meer waaksaam en versigtig te wees as gewoonlik wanneer daar agter ‘n stuurwiel ingeskuif word.

"Suid-Afrika se paaie bly van die gevaarlikste in die wêreld, nie soseer weens die toestand van die paaie wat wel veel te wense oorlaat nie, maar weens die menslike faktor wat 90% van alle ongelukke veroorsaak.

"Die groot redes wat hier uitgesonder moet word, is roekeloosheid, nalatigheid, onverdraagsaamheid en die groot euwel in hierdie opsig, alkohol.

"Alkohol is nie net sinoniem met die feesseisoen nie, maar ongelukkig ook met die slagting wat op die land se paaie plaasvind.

 

"Op die vooraand van die feestyd wil die VF Plus ‘n spesiale woord van dank rig aan almal wat onbaatsugtig hul tyd gaan wy aan die veiligheid van padgebruikers."

 

"Dit sluit in elke dokter, verpleegster, ambulanspersoneel, lede van die polisie en verkeersbeamptes wat ‘n reuse bydrae lewer om lewens te red en padgebruikers veilig te hou.

"Die VF Plus se wens is dat almal veilig sal bestuur en die seisoen van vreugde en vrede sal geniet. Moenie dat dié spesiale tyd vir u en u gesin tragies eindig weens ‘n onnodige padongeluk nie," sê Mey.

PietMeyPadveiligheidAlkoholFeestyd

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!