Koalisievennote onderteken historiese ooreenkoms wat onderhandel is in belang van beter dienslewering vir almal in Suid-Afrika

2021-12-15
Die Redaksie

Gesamentlike mediaverklaring

Partyleiers van regoor die Suid-Afrikaanse politieke spektrum het vandag die koalisieooreenkoms onderteken wat veelparty-regerings in hangrade regoor die land tot stand gebring het.

Die ooreenkoms het suksesvol koalisieregerings in al drie Metro-munisipaliteite in Gauteng gevorm om die ANC uit regering te hou.

Die ooreenkoms is onderhandel tussen die groot rolspelers wat deel vorm van hierdie regerings: Die Demokratiese Alliansie (DA), ActionSA, die Vryheidsfront Plus (VF Plus), Inkatha Freedom Party (IFP), African Christian Democratic Party (ACDP) en die Congress of the People (Cope).

Veelparty-regerings is in 22 munisipaliteite tot stand gebring, onder meer in Mogale City, Cederberg, George, Thabazimbi, Metsimaholo en die Breedevallei. Ander betrokke partye sluit in gemeenskapspartye sowel as streeks- of plaaslike partye.

Leiers van die koalisievennote het hulle by die ondertekeningseremonie verbind tot die daarstelling van 'n verantwoordelike koalisie wat in die beste belang van al die land se burgers sal optree.

Lesse wat uit vorige koalisieregerings geleer is, behels dat 'n omvattende koalisieooreenkoms onderhandel moet word eerder as om op die samestelling van burgemeesterskomitees te fokus.

Die onderhandelinge was ʼn langsame proses van verskeie vergaderings om 'n ooreenkoms te bewerkstellig. Dit bepaal die doelwitte van die koalisieregerings en maak onder meer voorsiening oor hoe geskille tussen vennote besleg sal word. Hierdie ooreenkoms is noodsaaklik om stabiliteit en goeie bestuur te verseker.

Elke koalisie is verbind tot 'n kultuur van aanspreeklikheid, deursigtigheid en goeie bestuur om die grondslag te vorm van alle werk wat in die munisipaliteite gedoen word.

Die ooreenkoms vorm die kern vir die regeringsprogramme in elk van die munisipaliteite wat die doelwitte en prioriteite vir dienslewering sal stel.

'n Portefeuljekoukus sal in elke munisipaliteit gestig word om besluitneming te koördineer en te verbeter. 'n Gesamentlike koukus sal gestig word om koördinasie en goeie kommunikasie tussen koalisievennote te verseker en 'n bestuurskomitee sal verantwoordelik wees vir die daaglikse bestuur en administrasie van die koalisie.

Die ooreenkoms maak ook voorsiening vir 'n koalisie-oorsiggroep wat 'n oorsigrol sal handhaaf om die funksionering en effektiwiteit van koalisieverhoudings in die onderskeie munisipaliteite te monitor.

Al die betrokke politieke partye is daartoe verbind om stabiele en suksesvolle regerings in belang van alle inwoners te verseker. Dit is van die uiterste belang dat hierdie veelpartyregerings as bewys sal dien dat die toekoms van Suid-Afrika koalisieregerings sal insluit wat die gemeenskappe sal dien, korrupsie sal uitroei, beter dienslewering sal verseker en 'n bevorderlike omgewing sal skep waarin alle Suid-Afrikaners kan floreer.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!