Mkhize moet oop kaarte speel oor moontlike vlak 3-inperkings in Oos-Kaap

2020-11-30
Philip van Staden

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sal oop kaarte moet speel met die inwoners van die Oos-Kaap asook die res van die land oor ‘n moontlike vlak 3-inperking in hierdie provinsie.

Dit was vir die VF Plus ontstellend om gister in die media te verneem dat die minister reeds gesprekke met sakeleiers, politici en andere verlede week in die provinsie gehad het en daar ooreengekom is op ‘n moontlike vlak 3-inperking.

Dit is ontstellend om via die media van ‘n leiersfiguur binne in die ANC hiervan te verneem terwyl die minister na afloop van die betrokke vergadering wat Vrydag in Port Elizabeth plaasgevind het, gesê het dat geen besluit daaroor nog geneem is nie.

Minister Mkhize is weereens besig om ‘n gevaarlike spel te speel en dit net omdat die openbare gesondheidstelsel in die provinsie nog geensins sedert die vlak 5-inperking vroeër vanjaar in gereedheid gebring is vir die pandemie nie.

Toe die eerste probleme in die begin van die jaar in die Oos-Kaap opgeduik het weens ‘n tekort aan gesondheidswerkers, persoonlike beskermende toerusting, klinieke, beddens, hospitale, medisyne, geld wat vermors is op die aankoop van motorfiets-ambulanse en pasiënte wat mekaar aangerand het vir suurstof, het die provinsie se LUR vir gesondheid tesame met die minister, ‘n ingrypingsplan aan die portefeuljekomitee vir gesondheid in die parlement voorgelê.

Dit is nou duidelik dat nie eers hierdie plan in werking gestel is nie en nou dat daar weer ‘n styging in infeksies is wil minister Mkhize die Oos-Kaap onder vlak 3-inperkings plaas. Alles net omdat nie die provinsiale departement of die nasionale departement en die ministerie genoeg gedoen het om die probleem vroeër op te los nie.

Die VF Plus het die minister reeds vroeër in Oktober gewaarsku dat die terugbeweeg na strenger inperkings nie meer die oplossing is. Selfs medici verbonde aan die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) het wêreldleiers in Oktober gemaan om nie terug te keer na inperkings toe nie aangesien dit nie die probleem alleen gaan oplos nie en dié optrede lande en mense vernietig.

Die VF Plus het Mkhize ook gewaarsku dat Suid-Afrikaners die regering nie meer vertrou nie en dat strenger inperkings kan lei tot algehele geweld en wanorde regdeur alle gemeenskappe in die land.

Die VF Plus doen ‘n beroep op minister Mkhize om nie hierdie roete te volg nie, maar om eerder dringende aandag aan die gesondheidstelsel te skenk, meer dokters en verpleegsters aan te stel en om te sorg dat voldoende toerusting en medisyne beskikbaar is om gesondheidswerkers te beskerm en dié se hande te versterk in die geveg teen die pandemie.

 

PhilipVanStadenOos-Kaap#ZweliMkhizeVlak3Inperkings

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!