OG-verslag wys hoe diepliggend wanbestuur, korrupsie en wanbesteding in Noordwes is

2021-04-08
Die Redaksie

"Die jongste verslag van die ouditeur generaal (OG) oor die stand van finansiële bestuur en aanspreeklikheid in provinsiale departemente in Noordwes, bevestig die diepgewortelde kultuur van wanbestuur, korrupsie en wanbesteding in dié provinsie," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en provinsiale leier in Noordwes.

"Onder die ANC-regering is die totaal vir onreëlmatige besteding in Noordwes vir die afgelope finansiële jaar R27,2 miljard.

"Wetlike voorskrifte vir verkrygingsprosedures word deur 95% van die departemente en entiteite geïgnoreer en voorvalle van beweerde korrupsie van R477 miljoen word ondersoek.

 

"Die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake, wat onder meer moet toesig hou en ingryp om sake by die wankelende munisipaliteite in die provinsie te beredder, is self verantwoordelik vir onreëlmatige besteding ten bedrae van R548 miljoen."

 

"Die OG se verslag lig duidelik die omvang van die mislukking van die ANC uit. Die wanbesteding van miljarde rande en die gepaardgaande verval van dienste en infrastruktuur is 'n skande.

"Die VF Plus sal voortgaan om 'n leidende rol te speel om die opposisie te versterk en kiesers te mobiliseer om te verseker dat hierdie wanbestuur en plundering van belastinggeld in Noordwes stopgesit word.

"Kiesers het die geleentheid in die komende plaaslike verkiesing om 'n beslissende slag te slaan deur ANC-beheer in munisipaliteite te beëindig," sê Groenewald.

NoordWesMunisipaliteiteMichalGroenewaldOuditeurGeneraal

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!