‘n Sitting van die Gautengse wetgewer is vandag uitgestel om lede van die uitvoerende komitee die geleentheid te gee om die huidige onlussituasie in die provinsie wat veral Johannesburg en Pretoria lamlê, op grondvlak aan te spreek.
Die VF Plus sou vandag in ‘n toespraak klem gelê het op die algehele onstabiliteit in die provinsie en sou die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuku, en die Gautengse polisiekommissaris, Elias Mawela, vra om die situasie dadelik onder beheer te bring.
"Die oproer by Turffontein, Jeppestown, Malvern en ander woonbuurtes kan nie langer voortduur waar winkeleienaars se winkels gestroop word, buitebande in paaie brand en mense in die proses beseer word nie," sê Kobus Hoffman, VF Plus-LPW in die Gautengse wetgewer.
"Die situasie het ʼn verlammende uitwerking op ondernemings wat nie kan handel dryf nie. Baie mense kan nie by hul werksplekke uitkom en produktiwiteit word erg beïnvloed," sê Hoffman.