Openbare gesondheidsorg het reeds sterfdatum bereik

2020-06-30
Die Redaksie

Die openbare gesondheidsektor in Suid-Afrika het reeds sy sterfdatum bereik en Covid-19 is nie alleen die oorsaak vir hierdie sterfte nie.

Tonele wat gister in die media die rondte gedoen het van “skokkende tonele” wat in die Oos-Kaap se provinsiale hospitale afspeel, is niks nuuts aan Suid-Afrika se openbare gesondheidsorgstelsel nie en tonele van pasiënte wat op hospitale se vloere lê, is ‘n gereelde probleem wat voor die koms van Covid-19 reeds ‘n algemene gesig was. Selfs in ‘n provinsie soos die Wes-Kaap het sulke tonele aan die begin van die jaar afgespeel.

Verskeie ander provinsies gaan ook gebuk onder korrupsie en wanadministrasie. Dit is waarom die VF Plus teen ‘n stelsel soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) veg - om te keer dat die private gesondheidsorg nie ook ingesluk word deur die regering se onvermoë om gesondheid aan burgers van die land te bied nie.

Die president het skaars enkele weke gelede in sy weeklikse nuusbrief gespog dat Covid-19 gaan dien as ‘n “Genesis” vir die NGV en dat die NGV ingestel gaan word. Die president se drome is egter aan skerwe deurdat Covid-19 finaal die laaste stukkie suurstof uit die reeds sterwende openbare gesondheidstelsel gewurg het. Die regering alleen is hiervoor verantwoordelik.

Covid-19 het ook sedert die begin van die inperkings getoon dat openbare gesondheidsorg nie betyds gereed gaan wees vir ‘n vloed van Covid-19-pasiënte nie en dat die regering die kans om gereedheid  in die eerste weke van die inperkings verspil het om toe te sien dat die stelsel opgeknap, op standaard en in gereedheid gebring word.

 Dit het nie gebeur nie daarom speel tonele af van gesondheidswerkers wat staak weens ‘n tekort aan beskermde toerusting, ventilators en beddens in hoësorg-eenhede waar die private sektor moes ingryp om beddens beskikbaar te stel in veldhospitale. Die regering het ook kontrakte gesluit met die private gesondheidsorgsektor om pasiënte op te neem in private hospitale.

Belaglike regulasies, soos die verbod op tabakverkope, wat nie-wetenskaplik bewys kan word dat dit bydra tot Covid-19-sterftes nie en inperkings, wat lank reeds hul doel gedien het, is nog steeds aan die orde van die dag.

Dit is ironies dat die regering alles in sy vermoë doen om van die private gesondheidsektor in Suid-Afrika ontslae te raak en te vervang met die NGV, maar indien daar ‘n situasie ontstaan soos nou met Covid-19, dan is die private sektor goed genoeg om in te spring en die regering uit die moeilikheid te help. Die regering sal baie vinnig moet besef dat net hy alleen vir die toestand van die land se openbare gesondheidstelsel verantwoordelik gehou kan word en niemand anders nie, nie eens Covid-19 nie.

Om slegs die departement van gesondheid in die Oos-Kaap onder administrasie te plaas, gaan nie die probleem oplos nie aangesien die hele openbare sektor in een groot gemors van korrupsie, wanadministrasie en swak dienslewering gesterf het. 

Wat Suid-Afrika nou nodig het, is ‘n gesondheidstelsel wat ontwerp moet word deur gespesialiseerde mediese kundiges wat beide die openbare- en private gesondheidsorg akkommodeer, en nie deur ANC-politici wat alles voor die voet vernietig nie.

PhilipVanStadenNasionaleGesondheidsVersekering#Covid19SA

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!