"Optogte soos dié wat die EFF vir Vrydag na die Hoërskool Brackenfell beplan, is ‘n totale minagting vir die grondwetlike regte van wetsgehoorsame mense wat nie daarmee vereenselwig nie," sê dr. Cornê Mulder, VF Plus-LP en hoofsweep.
"Dit is kommerwekkend dat die EFF reeds deur ‘n amptelike party-twiet gedreig het om Brackenfell “tot stilstand te bring” en sal toesien dat “niks daar werk nie” en dat hulle sal optree teen enigiemand wat in hul pad staan.
"Oor môre se beplande optog het die skool ‘n hof genader om die optog te keer. Dit is nie toegestaan nie, maar die hof het wel beveel dat slegs ‘n honderd mense mag deelneem.
"Wat nou by Brackenfell gebeur, herinner aan die ontwrigting wat plaasgevind het met EFF-protesoptredes by die Hoërskool Overvaal enkele jare gelede.
"Die VF Plus het toe ‘n privaatlid-wetsontwerp indien met die doel om protesoptredes wat enige ontwrigting naby ʼn skool mag veroorsaak, te verbied.
"Dit het nie geslaag nie, en die party sal die moontlikheid ondersoek om weer so ‘n wetsontwerp in te dien aangesien dit totaal onbegryplik en onaanvaarbaar is dat enige protesoptrede by ‘n skool toegelaat word, veral in eksamentyd.
"Die owerhede het nou ‘n beroep op die publiek gedoen om die omgewing van die Hoërskool Brackenfell te vermy waar die optog sal plaasvind. Die VF Plus wil hierby aansluit. Indien die EFF by ‘n verlate skool in ‘n verlate straat opdaag, sal dit die rooi ballon prik.
"Konfrontasie is presies wat dié mense wil hê. Daarsonder word hul suurstof weggeneem. Die VF Plus sal seker maak die hofbevel word uitgevoer en sal klagte indien as dit nie gebeur nie," sê Mulder.