Polisie moet oop kaarte speel oor Piet Retief-voorval waar vier boere in hegtenis geneem is op aanklagte van moord

2021-04-13
Die Redaksie

"Baie vrae hang oor die voorval wat daartoe gelei het dat vier boere van Piet Retief aangekla word van die moord op twee persone en die polisie moet in belang van geregtigheid gou duidelikheid hieroor gee," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

"Om die sub judice-reël te gebruik om te swyg oor presies wat aanleiding gegee het tot die voorval op 9 April en wat werklik daar gebeur het, is nie aanvaarbaar nie.

"Daar is verskillende weergawes oor die gebeure. Een is dat persone gaan werk soek het op ‘n plaas in die Dirkieskop-omgewing. ‘n Ander is dat die persone deel was van ‘n onwettige optog en dat die noodlottige skote na ‘n struweling afgevuur is.

"‘n Politieke drukgroep, die Mkhondo Justice for Economic Development was luidens ‘n mediaberig deel van die optog na die plaas. (Netwerk24, 12 April 2021: Werkers sterf: Piet Retief-mans bly in aanhouding).

"Luidens ‘n verklaring van Mpumalanga Landbou (ML) het een van die boere selfs ‘n noodoproep om hulp na ander boere gestuur aangesien hy van mening was dat die lewe van die plaas se bewoners bedreig word.

 

"Dit is jammer dat onverantwoordelike politieke uitsprake moontlik aanleiding kan gee tot voorvalle soos hierdie, of dat politici so ‘n voorval misbruik om gemoedere tussen mense verder op te jaag."

 

"Die burgemeester van die plaaslike Mkhondo-munisipaliteit het in ‘n verklaring boere in die algemeen veroordeel en gesê die “moord deur boere op plaaswerkers” moet veroordeel word.

"Mpumalanga se premier, Refilwe Mtsweni-Tsipane, het verder gegaan en dit beskryf as ‘n “rassistiese voorval wat uitgeroei moet word” en dat “boere nie so vinnig moet mobiliseer om mense se lewe te neem nie”.

"Dit is jammer dat Suid-Afrika se totale landbougemeenskap nou gedemoniseer word na een voorval waaroor steeds groot onsekerheid is.

"Dit is onaanvaarbaar aangesien dieselfde veralgemening ook kan plaasvind na elke wit boer wat vermoor word, en dit sou ‘n onnodige resep vir konflik wees.

"Die VF Plus se standpunt is nog altyd dat daar nie gevaarlike en vals beloftes gemaak moet word soos oor onteiening sonder vergoeding wat verwagtinge by mense kan skep en kan aanleiding gee tot konflik nie.

"Sulke uitsprake is onverantwoordelik en kan lei tot voorvalle soos wat nou in Piet Retief plaasgevind het," sê Groenewald. 

PieterGroenewaldMpumalangaPietRetief

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!