"Die regering moet die toerismebedryf in Suid-Afrika na waarde skat en moet wegdoen met diskriminerende, rasgegronde regulasies wat die groei en voortbestaan van die bedryf bedreig," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van toerisme.
"Dit is ook van kritieke belang dat die inperkingsregulasies op die toerismebedryf onmiddellik opgehef word om te verhinder dat die bedryf in duie stort. Die bedryf dra R273 miljard per jaar by tot die ekonomie van die land en is een van die grootste werkverskaffers.
"In stede daarvan dat die regering erkenning gee aan hierdie waardevolle bydrae, word toerisme Suid-Afrika se begroting met meer as 50% besnoei. Toerisme is die land se belangrikste bemarker - plaaslik en internasionaal.
"Regeringsbystand en -beleggings in toerisme is kardinaal vir volhoubare groei en ontwikkeling na die beëindiging van die ramptoestand. Die regering moet onmiddellik wegdoen met ras as kriteria vir staatshulp.
"Alle toerisme-ondernemings dra by tot werkskepping en sorg dat Suid-Afrikaners, ongeag ras, in staat gestel word om vir hul gesinne te sorg. Meer as 2,2 miljoen werkers is direk en indirek van die bedryf afhanklik vir hul inkomste.
"Ons is almal trots Suid-Afrikaans. Ons moet daarom eerder almal saamtrek tot voordeel van die land en al sy mense. Stel toerisme oop en verseker so dat die land een van sy grootste bates vir die nageslag behou," sê Groenewald.