"Die Universiteit van Stellenbosch (US) moet verduidelik waarom hy toelaat dat die taalregte van sommige Afrikaanssprekende studente in koshuise op blatante wyse vertrap word waar hulle luidens berigte glo gedwing word om slegs Engels te praat," sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
"Studente in sekere vroue-koshuise is glo deur mentors aangesê om slegs Engels te praat, selfs in private gesprekke in hul kamers.
"Wat hier gebeur, is nie net vertrapping van taalregte nie, maar die miskenning van Afrikaanse studente se menseregte en daarom ook ‘n miskenning van die land se Grondwet.
"Vir die universiteitsowerhede om te sê dat geen “formele” klagte oor die aangeleentheid ontvang is nie, is nie goed genoeg nie.
"Daar is wyd in media oor die aangeleentheid berig en die universiteit kan nie sê hy was nie daarvan bewus nie. Dit is sy plig om alle studente se regte te beskerm en hy moes daarom uit sy eie optree om die vergryp stop te sit.
"Deur nie op te tree nie, stuur die universiteitsowerhede ‘n duidelik boodskap van stille goedkeuring uit dat Afrikaans geen plek hoegenaamd meer het by die US nie en dat Afrikaanse student vertrap en verneder kan word.
Dié beleid maak volgens die universiteit daarvoor voorsiening dat taal in koshuise en ander leefomgewings so gebruik word dat ‘’niemand van aktiwiteite uitgesluit word nie”. (Netwerk 24: “Dit gaan nou oor verontagsaming van Grondwet”: 8 Maart 2021).
"Die Menseregtekommissie (MRK) is reeds uit verskeie oorde versoek om die aangeleentheid te ondersoek en die VF Plus sal enige poging steun om die verdere miskenning van Afrikaans by universiteite stop te sit.
"Die VF Plus sal ook die MRK se optrede in dié verband fyn dophou aangesien die organisasie herhaaldelik deur sy optrede gewys het dat sommige ondersoeke met meer ywer as ander aangepak word," sê Groenewald.